Tropiese storm: ‘Ons het ’n koeël ontwyk’

‘n Nat Westerly, Rhode Island. (Foto: Scott Eisen/Getty Images/AFP)

’n Rekord-reënval het in die Amerikaanse deelstaat Rhode Island uitgesak en bome is ontwortel toe tropiese storm Henri teen Sondagmiddag aan land naby die dorpie Westerly gewoed het.

Duisende Amerikaners is ook sonder elektrisiteit gestrand gelaat. Henri was in dié stadium reeds van ’n kategorie 1-orkaan na ’n tropiese storm afgegradeer.

Volgens die Amerikaanse nasionale orkaansentrum het Henri hom sedertdien byna uitgewoed met ’n windsterkte van tot 48 km per uur. Dít is veel laer as die verwagte 75 km per uur. Die orkaansentrum voorspel ook min verandering aan die windsterkte.

Ongeveer 79 000 inwoners van Rhode Island het wel Sondag weens die storm sonder krag gesit terwyl nog 33 000 mense kragonderbrekings in Connecticut ondervind het.

Meer as 200 vlugte is op die Newark-lughawe gekanselleer, terwyl LaGuardia en JFK in New York byna 200 vlugte tussen dié twee lughawens gekanselleer het.

Geen sterftes is egter weens tropiese storm Henri aangemeld nie en inwoners meen hulle het relatief lig van die storm afgekom.

“Ons het ’n koeël ontwyk,” het James Kiker van die kusdorp Newport aan AFP gesê. Kiker het in sy omgewing “minimale skade” opgemerk, waaronder ’n paar gebreekte takke.

“Ek sal waaksaam bly, want daar wag nog baie wind, reën en onstuimige seetoestande, maar ek haal ’n bietjie makliker asem,” het Amy Pedatella van die Hamptons op haar beurt gesê.

Henri word bestempel as ’n seldsame tropiese storm om die noordoostelike kus van Amerika te tref en spruit glo uit die verwarming van die oseaanoppervlaklaag – ’n gevolg van klimaatsverandering.

Wetenskaplikes meen die verwarming veroorsaak dat siklone kragtiger word en meer water dra wat om die beurt ’n toenemende bedreiging vir die kusgemeenskappe van die wêreld inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jubba ·

Hulle het n tropiese storm nodig om sonder eletrisiteit te sit. Hier sit ons enige tyd sonder dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.