Tropiese storm op pad na VSA nou orkaan

‘n Gesin vertrek Dinsdag uit Galveston, Texas, voor orkaan Laura tref. (Foto: AP Photo/David J. Phillip)

Die tropiese storm Laura het Dinsdag tot ’n orkaan versterk namate sy haar weg oor die Golf van Mexiko na die Amerikaanse deelstate Texas en Louisiana maak.

Laura sal na verwagting laat Woensdag of vroeg Donderdag die kus as ’n kategorie 3-orkaan tref, met ’n orkaanwaarskuwing reeds in gedeeltes van die kuslyn van Texas en Louisiana uitgereik.

Daar word voorspel dat Laura die kuslyn in Oos-Texas of Wes-Louisiana sal tref met swaar reën en stormsterkwinde van meer as 160 kilometer per uur.

‘n Man bring Dinsdag versterkings aan by ‘n winkel aan in Galveston, Texas. (Foto: AP Photo/David J. Phillip)

Meer as 385 000 inwoners is intussen aangesê om uit die Texas-stede Beaumont, Galveston and Port Arthur te vlug terwyl 200 000 mense aangeraai is om die laagliggende Calcasieu-parogie in die suidweste van Louisiana te ontruim.

“Noudat die oog van Laura gevorm is, is daar net geen twyfel dat dit ’n groot en uiters gevaarlike orkaan vir die ooste van Texas en Louisiana sal wees nie,” het Eric Blake, senior orkaanspesialis by die Nasionale Orkaansentrum in die VSA, Dinsdagaand getwiet.

Maroela Media het vroeër berig orkaan Marco sou na verwagting Louisiana eerste tref waarna Laura verwoesting sou saai nadat dié twee storms oor die naweek verwoesting in Haïti, Kuba en die Dominikaanse Republiek gesaai het.

Marco het egter aansienlik verswak voordat hy die VSA kon bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.