Tropiese storm saai verwoesting in Afrika

Die tropiese storm Ana het verwoesting die afgelope week veroorsaak (Foto: NneNne Iwuji-Eme, Twitter)

Altesaam 70 mense is dood en talle mense geraak deur die tropiese storm Ana, wat vandeesweek aan die suidoostelike kus van Afrika begin woed het. Die storm het veral verwoesting in Mosambiek, Malawi en Madagaskar veroorsaak.

Swaar reën en stormsterk winde het tot oorstromings en skade aan infrastruktuur in bogenoemde lande gelei. Verskeie gesinne is dakloos gelaat en sommige groot paaie en brûe is nou ontoeganklik weens reënskade. Boere het ook skade gely deurdat hul gewasse weggespoel en vee verdrink het.

Mosambiek se weerdiens verwag boonop dat nóg ʼn storm in die komende dae oor die Indiese Oseaan kan vorm. Tot ses tropiese siklone word verwag voordat die reënseisoen in Maart eindig.

Duisende mense is dakloos in Mosambiek gelaat (Foto: ICRC Southern Africa, Twitter)

Maroela Media het vroeër berig die storm het verlede Donderdag in die verre oostelike dele van die Indiese Oseaan ontwikkel en twee dae later oor Madagaskar beweeg. Die storm het teen Maandag na die Mosambiekkanaal beweeg en daarna ook Malawi getref.

Die storm is intussen tot ʼn tropiese laagdrukstelsel afgegradeer en woed tans oor die sentrale en noordelike dele van Zimbabwe en die suidelike dele van Zambië.

In Madagaskar is altesaam 41 sterftes aangemeld, gevolg deur 18 sterftes in Mosambiek en 11 in Malawi. Nog geen sterftes is in Zimbabwe of Zambië aangemeld nie.

In Madagaskar moes sowat 110 000 mense skuiling soek nadat hul huise deur die storm vernietig is. In die hoofstad van Antananarivo is skole en gimnasiums in noodskuilings omskep.

In die noordelike en sentrale dele van Mosambiek het die storm meer as 10 000 huise en dosyne skole en hospitale vernietig. Talle inwoners sit ook sonder krag nadat die kraglyne en -stasies vernietig is.

In Malawi het die regering ʼn ramptoestand verklaar.

Daar word voorspel dat nog ‘n storm in die komende dae oor die Indiese Oseaan gaan vorm (Foto: ICRC Southern Africa, Twitter)

Reddingswerkers en owerhede in die drie lande bepaal tans die volle omvang van die skade.

Buurlande soos Namibië en Suid-Afrika het die afgelope week ook swaar reën ervaar wat deur die storm veroorsaak is.

The Namibian berig vloede dreig in die Zambezi-distrik weens die swaar reën.

Namibië se hidrologiese dienste het Maandag bevestig die Zambezi- en Okavangoriviere styg geleidelik en kan moontlik hewige oorstromings in die omgewing veroorsaak.

Jost Kawana, streeksonderwysdirekteur van die Zambezi-distrik, sê skole naby aan die riviere loop die risiko om te oorstroom indien die watervlakke aanhou styg. Van die skole is in die oostelike dele van die Muzii-, Namiyundu- en Nankutwe-gebiede geleë. Onderskeidelik 270, 110 en 179 leerders kan geraak word.

Kawana sê indien die water aanhou styg, kan die skole teen volgende maand deur water omring wees, en sal leerders en onderwyspersoneel nie toegang tot die skole hê nie.

Boere in die omgewing word ook aangeraai om hul vee na hoër gebiede te skuif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wielspore ·

Gaan kyk gerus by: https://www.windy.com/-Rain-thunder-rain?rain,-25.463,30.963,5
Kies die rain / thunder opsie en play, dan sien jy hoe kruip die volgende sikloon nader vanuit die Ooste na die Weste en dit is naby Madagaskar teen volgende week Saterdag. Hierdie sikloon is heelwat meer Suid as Ana en as hy aanhou beweeg in sy huidige rigting is die kans goed dat hy in SA gaan aanland. Hou ook in gedagte dat enige weervoorspelling van 5 dae en langer in die toekoms heelwat kan verander.

blackbird ·

Ek verwonder my aan die arogante mensdom. Wanneer daar droogte is, is almal in gebed. Links en regs word gevra vir gebede vir die streek of provinsie sodat God diegene kan seen met water/reen. Intussen maak niemand voorsiening deur voorbereidings te tref vir die seeninge nie. Is dit ongeloof of is dit omdat ons wil wag en sien wat gaan gebeur? Ons bid en vra, ons vergroot nie die damme nie, ons maak nie ons reservoirs skoon nie……….God seen op Sy eie tyd, sodat ons genoeg tyd moet het vir voorbereiding en gereed sal wees vir dit wat ons gevra het, maar nee ons sit in gemak en wil dieselfde seeningsvat blammeer vir die oorstromings. Hy moet seker maar self sorg dat daar stoorplek/damme is……..siedaar die oorstromings…….dom geslagte. Wanneer jy bid vir jou behoefte van swaarkry, maak skoon jou yskas, raak ontslae van die onodige goed wat spasie opneem, want as die seeninge jou oorskadu, dat jy genoeg pakplek het, en as jy nog oor het, seen iemand anders daarmee.

Kobie ·

Hoe op aarde berei mens voor vir ń tropiese sikloon?
Kommentaar soos die gaan my verstand te bowe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.