Trump: ‘Die muur sál gebou word’

Pres. Donald Trump lewer sy staatsredetoespraak in Washington (5 Februarie 2019). Foto: Andrew Harnik/AP

Pres. Donald Trump het Dinsdagaand (plaaslike tyd) tydens sy tweede staatsrede in Washington sy belofte herhaal dat die omstrede muur op die Meksiko-grens opgerig sal word.

Trump het ʼn beroep op die Demokrate gedoen om ʼn kompromis te tref oor die finansiering van die muur en het sy gewone retoriek oor onwettige immigrasie effe versag. “Ons moet kies tussen grootheid en vasval, resultate of weerstand, visie of wraak, ongelooflike vordering of nuttelose vernietiging. Vanaand vra ek julle om grootheid te kies,” het hy gesê.

Hy het egter beloof dat die muur wel ʼn werklikheid sal word. “Dit sál gebou word. Eenvoudig gestel, mure werk en mure red lewens. So, kom ons werk saam, kom ons tref ʼn kompromis, en kom ons bereik ʼn ooreenkoms wat Amerika werklik weer veilig sal maak,” het hy gesê.

“Geen kwessie is ʼn beter aanduiding van die skeiding tussen die Amerikaanse werkersklas en die Amerikaanse politieke klas soos onwettige immigrasie nie,” het hy bygevoeg.

Trump het ook sy staatsrede gebruik om sy grootste prestasies tydens sy twee jaar as president uit te lig. Hy het ʼn beroep gedoen vir samewerking oor werkskepping, handel, infrastruktuurontwikkeling, gesondheidsorg, immigrasie en buitelandse beleid. “Oorwinning is nie ʼn wenslag vir ons party nie. Oorwinning is ʼn wenslag vir ons land,” het hy gesê.

“Miljoene medelandsburgers kyk na ons wat nou hier in hierdie vertrek bymekaar is, en hoop ons sal regeer – nie as twee partye nie, maar as een nasie. Die agenda wat ek vanaand hier voorlê, is nie ʼn Republikeine-agenda of Demokrate-agenda nie. Dit is die agenda van die Amerikaanse mense.”

Pres. Donald Trump draai na speaker Nancy Pelosi tydens sy staatsredetoespraak in Washington (5 Februarie 2019). Foto: Andrew Harnik/AP

Baie van die Demokrate-wetgewers, geklee in wit, het hierop gereageer deur op te staan om hande te klap, onder wie speaker Nancy Pelosi.

ʼn Groep vroue van die Demokrate wat in wit geklee was, het ook gejuig toe Trump oor vroue in die werkersmag gepraat het. Selfs Trump was verbaas oor dié reaksie. “Niemand het meer voordeel getrek uit die vooruitstrewende ekonomie as vroue wat 58% van nuwe werksgeleenthede dié jaar beklee het nie,” het hy gesê.

“Julle was nie veronderstel om dit te doen nie,” het hy geskerts. “Baie dankie. Alle Amerikaners kan trots wees dat ons nou meer vroue in die werkersmag het as ooit vantevore. En presies ʼn eeu nadat die kongres ʼn grondwetlike wysiging goedgekeur het om vroue die reg te gee om te stem, het ons meer vroue wat in die kongres dien as ooit vantevore.”

“Verhouding met Kim Jong-oen is goed”

Trump het ook gesê dat hy op 27 en 28 Februarie weer met die Noord-Koreaanse leier Kim Jong-oen in Viëtnam sal vergader vir hul tweede beraad. “As deel van ʼn vooruitstrewende nuwe diplomasie, sal ons voortgaan met ons historiese strewe vir vrede op die Koreaanse Skiereiland,” het hy gesê.

Pres. Donald Trump lewer sy staatsredetoespraak in Washington (5 Februarie 2019). Foto: Andrew Harnik/AP

“Ons gyselaars het huis toe gekom, kernwapentoetse is gestaak en daar is in die afgelope 15 maande nie ʼn missiel afgevuur nie. As ek nie tot president van die VSA verkies is nie, sou ons nou, na my mening, in ʼn groot oorlog met Noord-Korea gewikkel gewees het,” het hy gesê.

“Baie werk moet nog gedoen word, maar my verhouding met Kim Jong-oen is goed.”

Die twee wêreldleiers het hul eerste vergadering in Junie verlede jaar in Singapoer gehou. Hoewel Kim beloof het om kernwapentoetse in Noord-Korea te staak, is daar nie uitdruklike besonderhede gegee oor hoe of wanneer dit sou gebeur nie en dit blyk dat daar sedertdien nog min vordering gemaak is.

Dan Coats, Trump se eie direkteur van nasionale intelligensie, het verlede week Trump se uitsprake oor Noord-Korea weerspreek toe hy gewaarsku het dit is “onwaarskynlik” dat Pjongjang van sy kernwapenplanne sal afsien omdat “leiers kernwapens beskou as noodsaaklik vir regime-oorlewing”.

Kim het ook die VSA gekritiseer dat hy steeds sanksies teen Noord-Korea instel en handhaaf en het in sy Nuwejaarstoespraak gewaarsku dit kan die “die kernontwapening van die Koreaanse Skiereiland vir altyd in die wiele ry”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Elvira ·

Mnr Trump, bou daardie muur. Kyk waarmee sit SA op die oomblik as gevolg van die slegte immigrasie beheer.

Jerry ·

Nancy se kyk se alles. Sy “like” trump net so kwaai soos ekke!

Johan H. ·

Agbmare Mr Trump, as u klaar is kom bou asb vir ons ook, een om ons hele grens en een om die parlement! U n yster!!!

Werner ·

Dit is hoe n land se leier moet wees kyk na sy eie mense iets wat ons nog nooit gehaad het nie net na hulle eie sakke gekyk en doen dit steeds patete

Johan ·

Amerikaners gaan nog standbeelde bou Vir hom en hy gaan baie groter en geliefd wees as Kennedy na sy dood.Hy sal bekend staan as die man wat Amerika 10 voor 12 gered het.Hy maak Anders as Demokrate die regte besluite,Nie gewilde besluite Nie.As dit moontlik was vir sy pinkienael om hier te regeer sou dit die land van melk en heuning gewees het….

jaco ·

Waarom kla die Demokrate so oor die muur? Meer as die helfte is dan reeds klaar. Gaan Google dit. Kyk ook na Border Security op DSTV. Daars lang stukke staal heining reeds klaar. Daar is aan dit gebou reeds in die tyd van Demokratiese presidente Clinton en Obama. Waarom was die hoë staalheining dan toe nie ‘n probleem nie?

christa ·

Trump is ‘n uitstekende leier. Hy doen wat hy se. Ek wens hy wil hier ‘n muur kom bou. buitelanders kry voorkeur in SA en vat ons eie mense se werk. Daarom sit SA sonder werk vir sy eie mense.

humor ·

Aan die einde van die berig is daar so n bietjie suurdruiwe, maar neem kennis die samesprekinge word voort gesit

Andre ·

TRUMP BO!

As jy ‘n RYK persoon as president aanstel … kry jy GROOT DENKE en GROOT SUKSESSE!

As jy ‘n arm beeswagter aanstel kry jy ………? Nou ja …..

Thinus Erasmus ·

Dit is onverstaanbaar dat sekere mens die grensmuur so kritiseer, maar almal staan verwonderd oor die Groot Muur van China – en die geskiedenis het gewys dit het ‘n land, ‘n nasie en baie lewens gespaar. En dit was om die regte redes opgerig.
Net so die muur tussen VSA en Mexiko, en die smokkel deurgangsroete na Suid-Amerika. Al die jare nog is daar ‘n beheerde grens maar dit is nie meer effektief genoeg nie.
Dus kan die grensmuur nie vergelyk word met die skeidende Berlynlynse muur nie wat om die verkeerde redes opgerig was.
Die Demokrate veg nie teen muur nie maar teen Trump en sy beter idees.
Ek het my bes probeer MM!

Cherokee ·

Die bouers aan daai muur, wat hoog gaan wees, moet seker maak hulle bou aan die regte kant van die muur!

jaco ·

die grense tussen Bulgarye en Turkye en tussen Ceuta (deel van Spanje) en Marokko en tussen Mexico (nogal) en Guatamala is ALMAL driedubbele heinings en almal baie hoog. Waarom kla niemand dan daaroor nie?

Trompie ·

Dankie, Jerry, ek stem so saam met jou.
En om te dink dit is ‘n vrou wat hom op sy plek hou! Ha ha ha ha

Schalk ·

Ai maroela berig uitspraak die ryk parlementariers en werkersklas .Luister weer wat hy sê .Moenie sy woorde verdraai en halwe waarhede wat in lug hang weergee nie
Jul aanwending van die woord blyk is suggestief.Ek hoop van harte dat jul by die feite sal bly en nie opinie vormende subjektiewe berigte sal plaas nie.Hou maar net van waarheid en objektiewe beriggewing.

Gert ·

Daardie tannie Nancy sê mos dis immoreel om ‘n muur te bou om onwettiges uit te hou. Ek hoop sy pas dieselfde by haar huis toe, en los haar voordeur oop elke nag, dis immoreel om hom te sluit.

Skroef ·

Gaan voort ou kuifie, gaan bou daai muur. Moet egter nie soos n stout kleuter die hele land gyselaar hou oor jou kinderagtige begeerte nie. Los die belastingbetalers se geld uit en bou jou muur op eie onkoste. Sit genoeg kuifies op dat almal kan weet dis TRUMP’S FOLLY.

Judge Dredd ·

Hoe nou? Die demokrate verwag dan almal moet betaal vir hulle belaglike idees.

En ja – Trump het tax cuts ingestel – so jy moet eintlik baie gelukkig wees, om nie eens te praat van werkloosheid wat die laagste in dekades is.

Ronnie ·

‘n Lewelose toespraak, vol leuens soos gewoonlik en nou ook dreigemente. Wat rym!
Wie het al ooit gehoor van ‘n president wat vra vir finansiële bydrae wat juis gemaak moet word terwyl hy ‘n toespraak lewer. Die skenkers se naam word dan op ‘n skerm vertoon as “beloning”. Dis die tweede soortgelyke versoek vir skenkings aan sy spaarvarkie. Is dit vir sy regskostes? Die syfers van die vorige fondinsameling is nog nie bekend gemaak nie. In alle waarskynlik sal dit ook nie openbaar gemaak word tensy daar druk is van die owerhede.
Trump bring die laaste dae van sy presidensie voor die TV deur. Hy weet die klugspel is verby. Ek dink sy grootste vrese staar hom in die gesig. Wat as dit duidelik raak dat hy nie ‘n ligitieme president is nie. En wat as dit blyk dat hy glad nie so ryk is as wat hy voorgee nie. O wee! Wat as ondersoeke toon dat daar wel sameswering met ‘n vyandige moondheid was en wat as dit bewys word dat hy ‘n Russiese bate of selfs agent is. Wat dan nog die geldwassery en ander kriminele gedrag oor al die jare heen wat verseker binnekort aan die lig gaan kom?
Ek twyfel dat hy in die gevangenis sal opeindig, maar hy gaan geld en ander bates verloor en sy ego sal ‘n ernstige knou kry. So ernstige knou dat hy heeltemal uit die kollig sal verdwyn.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.