Trump dreig om geld aan WGO permanent te staak

Donald Trump, president van die VSA. (Foto: Evan Vucci/AP)

Die Amerikaanse president Donald Trump dreig om die VSA se finansiering van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) permanent te staak as die instelling hom nie binne 30 dae verbind tot beduidende verbeterings nie.

Trump stippel in ʼn vier bladsy lange brief aan die WGO se direkteur-generaal, Tedros Adhanom Ghebreyesus, verskeie “herhaalde verkeerde stappe” deur die organisasie uit. Trump het die brief op Twitter gedeel.

Die Amerikaanse president voer aan die WGO deel die aanspreeklikheid vir die groot getalle sterftes weens die Covid-19-pandemie.

Hy sê die WGO se wanbestuur en die organisasie se vertroue op inligting van China het die pandemie beduidend vererger en dit wêreldwyd laat versprei. Hy het die WGO ook ʼn “handpop van China” genoem.

Trump sê hy gaan die permanente finansiering van die WGO tydelik staak, asook die VSA se voortgesette lidmaatskap van die organisasie heroorweeg as hy nie binne die spertyd enige verbeterings sien nie.

“Die enigste pad vorentoe vir die WGO is indien hy sy onafhanklikheid van China kan wys,” het Trump gesê.

Hy sê besprekings met die organisasie oor hervormings het reeds begin. “Vinnige optrede is nodig. Ons het nie tyd om te mors nie.

“Ek kan nie toelaat dat Amerikaanse belastingdollars aanhou om ʼn organisasie te finansier wat in sy huidige vorm duidelik nie Amerika se belange dien nie.”

Trump het verlede maand onder kritiek deurgeloop nadat hy aangekondig het dat hy die land se finansiering van die WGO opskort vir ʼn 60 tot 90 dae lange hersiening. Hy is ook gekap oor hoe die Withuis aanvanklik op die krisis gereageer het.

Trump het die WGO herhaaldelik daarvan beskuldig dat hy tekort skiet in sy reaksie op die pandemie. Amerika betaal jaarliks tussen $400 miljoen en $500 miljoen aan die WGO.

Die WGO het intussen bevestig dat hy ʼn onafhanklike hersiening van sy reaksie op die pandemie laat doen.

Die organisasie het Maandag sy eerste aanlyn sitting gehou en Ghebreyesus het toegegee dat daar tot dusver tekortkominge was. Hy het die oproep vir ʼn hersiening verwelkom.

Die Europese Unie (EU) het gevra vir ʼn “onpartydige, onafhanklike en omvattende evaluering” van die internasionale reaksie op die pandemie wat tot dusver meer as 4,8 miljoen infeksies en nagenoeg 317 000 sterftes veroorsaak het. Die meeste van die sterftes was in die VSA.

Ghebreyesus sê egter ʼn hersiening is nie nodig om te weet alles moontlik moet gedoen word om te verseker ʼn pandemie soos dié gebeur nooit weer nie.

Verskeie wêreldleiers en gesondheidsministers het die WGO se werk geloof. Die Amerikaanse minister van gesondheid, Alex Azar, voer egter aan die WGO se “versuim” om belangrike inligting oor Covid-19 te bekom en te verskaf, het lewens gekos.

Die VSA sê die WGO is hopeloos te naby aan Beijing en dat hy die pandemie wanbestuur en probeer toesmeer het.

“In ʼn ooglopende poging om die uitbreking te verdoesel, het minstens een lidland ʼn bespotting van sy deursigtigheidsverpligting gemaak, met ʼn enorme koste vir die res van die wêreld,” het Azar in ʼn teregwysing na Beijing gesê.

Bronne: Dpa, AFP

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jakes

Hoog tyd dat die WHO in die bek geruk word.
Wat so snaaks is is dat Brussels ook nou vra vir n ondersoek dit nadat Trump aangevat was oor sy aanvanklikke besluit.
Nou moet hy net die Useless Nations ook in die bek ruk.

Anel

Ek is eintlik mal oor Trump. Hy kyk na die VSA. En hy is nie bang om die wêreld te laat weet nie. Hy het niks om te verloor nie, net baie om te wen. Wens hy wil die spul hier in die bek kom ruk.

Pieter

Ek hoop dat ons “regering” ook sal besef dat dit belastingbetalers se geld is wat hulle so kwistig uitdeel.

Elize

Jy wens verniet Anel.
Hoeveel berigte was nie al in die media oor AL sy skenkings aan SA nie!!!!
Ons is op ons eie.
Niemand “abroad” gaan vinger verroer om ons by te staan nie.

Namib

Lekker uncle Don!! Wys hulle.