Trump en Kim Kardashian vergader

Kim Kardashian en Donald Trump. (Foto: Twitter)

Kim Kardashian en Donald Trump. (Foto: Twitter)

Die Amerikaanse televisiepersoonlikheid Kim Kardashian en pres. Donald Trump het Woensdag vergader om die moontlikheid te bespreek om ʼn 63-jarige vrou van dié land van ʼn lewenslange tronkstrafvonnis kwyt te skeld.

Alice Marie Johnson is al vir langer as twee dekades agter tralies nadat sy in 1996 tot lewenslange tronkstraf sonder parool gevonnis is. Johnson is gevonnis omdat sy glo kommunikasie tussen dwelmverkopers en aankopers bewerkstellig het.

Die BBC berig Trump se skoonseun, Jared Kushner, en die televisiester beraadslaag al maande lank oor Johnson en haar toekoms.

Kardashian het in Oktober verlede jaar op Johnson se verhaal afgekom nadat ʼn video oor haar lewe en die tronkstrafvonnis op sosiale media die ronde gedoen het. Sy het kort daarna vir haar familieprokureur, Shawn Holley, gevra om die besonderhede oor die saak te bestudeer om te probeer bepaal of daar ʼn manier sou wees om die oumagrootjie, wat gevonnis is vir ʼn eerste oortreding, te help.

Kardashian het Kushner, een van Trump se raadgewers, kort hierna genader om rehabilitasie vir gevangenes en vonnisopleggings te bespreek. Kushner is al jare lank betrokke by projekte wat verseker dat gevangenes gerehabiliteer word. Sy jongste projek van $50 m (meer as R624 miljoen) is daarop gemik om hierdie rehabilitasieprogramme vir gevangenes uit te brei.

Kim Kardashian. (Foto: ANA)

Die televisiester het Woensdag op sosiale media gesê sy hoop haar vergadering met Trump sal Johnson ʼn “tweede kans op lewe” bied. Die vergadering is glo juis vir Woensdag, Johnson se verjaardag, geskeduleer.

Kardashian het ook in ʼn onderhoud met die webwerf Mic gesê sy sal “alles in haar vermoë doen” om te verseker dat Johnson vrygelaat word. “Ek dink sy verdien regtig ʼn tweede kans. Ek sal doen wat dit ook al verg, daarom voer ek gesprekke met [beamptes van] die Withuis om haar saak op die president se tafel te probeer kry sodat ons aan ʼn manier kan werk om haar vry te laat.”

Sy het ná die vergadering op Twitter gesê: “Ek wil graag vir pres. Trump bedank vir sy tyd vanmiddag. Ons hoop die president sal genadig wees met Alice Marie Johnson wat ʼn lewenslange vonnis uitdien vir ʼn niegewelddadige eerste dwelmoortreding. Ons is optimisties oor Johnson se toekoms en hoopvol dat sy – en soveel ander soos sy – ʼn tweede kans op lewe sal kry.”

Trump het hom ná die vergadering ook tot sosiale media gewend. “Dit was wonderlik om Kim Kardashian vandag te ontmoet. Ons het gepraat oor rehabilitasie vir gevangenes en vonnisopleggings.”

Tretessa Johnson, Johnson se dogter, het aan die BBC gesê Kardashian se betrokkenheid by die saak bring nuwe hoop dat haar ma moontlik ʼn vry vrou kan wees. “Ons bid vir genade vir my ma se pleidooi,” het sy gesê. “Ons bid dat dit ʼn nagmerrie is wat binnekort gaan eindig.”

Dit is nie die familie se eerste poging om Johnson se vonnis te laat kwytskeld nie. Haar aansoek is in 2014, onder oudpres. Barack Obama se administrasie, enkele dae voor sy uittrede afgekeur. Johnson het destyds self daaroor gesê: “Dit is die laaste keer dat ek my familie deur die seer van verwagtinge gaan sit.”

Haar familie se jongste pogings vlam egter nou weer op omdat Johnson deur talle as ʼn “rolmodel-gevangene” bestempel word wat by talle gemeenskaps- en liefdadigheidsprojekte binne die gevangenis betrokke is.

Volgens The Guardian sal dit geheel en al van Trump se diskresie afhang of Johnson kwytgeskeld gaan word van haar vonnis al dan nie.

Trump het al vantevore enkele mense kwytgeskeld onder wie ʼn voormalige Amerikaanse matroos wat gevonnis is omdat hy foto’s geneem het van geklassifiseerde gedeeltes van ʼn duikboot. Die president het ook ʼn paar weke gelede ʼn postuum kwytskelding aan Jack Johnson, die eerste Amerikaanse swart swaargewig-bokskampioen, verleen. Johnson was in 1920 vir 10 maande agter tralies vir ʼn “rasgemotiveerde aanklag”. Hy is in hegtenis geneem omdat hy sy vrou, ʼn wit vrou – in daardie tyd streng verbode – oor ʼn Amerikaanse grenslyn vervoer het vir “immorele redes”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

O genade ·

Donald werk seker aan ‘n plan…met albei Kim’s.
Noord Korea se Kim én Kim Kardashian…!

Trienie ·

Dit word al duideliker dat Trump se presidentskap ‘n klug en grap is. Wee Amerika, hulle val is seker naby.

Is nie ·

Neewat Trump doen die regte ding .. ek dink SA se val is baie nader as Amerika s’n. Hoop net hy bou nou daai muur !! Hoekom is dit ‘n klug en grap? Waar val jy uit? Kyk eerder na SA se presidente en ex presidente as jy na ‘n KLUG en GRAP wil kyk.

Nel ·

Ag tog Trienie, weet jy dat tydens die “aller verskriklike apartheidsera” P.W. Botha ook kwytskelding aan misdadigers gebied het, o.a. die ” ïkoon” Mandela vir sy destydse bydrae tot die Kerkstraat-bomontploffing, mits hy geweld afsweer en wat hy elke keer geweier het.
So wat is so vreemd daaraan dat Trump genader is om gevangeniskwytskelding te bied aan ‘n persoon met ‘n misdaadrekord? Vertel my asb.

Neil ·

Snaaks hoe hulle hom sleg se, en nou kom smeek vir n misdadiger.

Callie ·

Julle wat so teen Trump is staan seker totaal teen Christenskap. Mense, Trump doen wat vir sy land en sy mense die beste ks. Hoe kan dit vedkeedd wees. Julle ondersteun CR wat dit duidelik stel dat hy wittes se grond gaan vat en vir sy mense gaan herverdeel. Wat is julle probleme met n man wat vir reg en Christene opstaan

christa ·

almal kan se wat hulle wil maar ekhou van Trump. Myle beter as om gedurig in jou eie land te sien hoe word wittes benadeel

Nika ·

Dis snaaks hoe almal altyd n mondvol het oor Trump, maar toe daar n petisie aan die gang was sodat ons plaasaanvalle bekend maak en dat Amerika na SA toe sal kyk en ons ondersteun en help is almal se name op die lys. Trump het al meer gedoen vir sy mense en sy land as almal wat n eier te lê het oor sy rol as president. Ek kies eder vir Trump wat sy eie volk, geloof en land verdedig en help as Theresa May wat die moslems ondersteun ten koste van Engeland se burgers. En dan natuurlik sit ek eder met n Trump as met n CR vir n president.

JK ·

En as Theresa n moslem is? Dan bevorder sy mos óók haar eie geloof.

Blommie ·

Almal verdien n tweede kans en dis wonderlik hoe hulle na die meriete van die saak kyk, oor die ernstigheid daarvan.
Hier by ons word GEWOONTE misdadigers wat MOORD pleeg ge-rehabliteer!

JK ·

“almal verdien n 2de kans” so jy wil vir my se, ALMAL verdien dit right, so ook n moordenaar wat sy familie uitwis. Moet hý ook n 2de kans kry? Plaasmoordenaar, moet hy ook n 2de kans kry? of is dit some are more equal than others?

Wilma ·

Sy hoort ini tronk. Sy moes gedink het voordat sy betrokke geraak het. Miljoene mense se lewens word verwoes drur gieriges

Hannatjie ·

Ek stem 100% saam met jou Nika. Ek is behoorlik jaloers op die VSA. Wens hy was ons president!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.