Die Amerikaanse president Donald Trump is na ʼn weermaghospitaal vir behandeling van Covid-19 gevlieg nadat hy en sy vrou, Melania, Vrydag positief getoets is vir die virussiekte.
Verskeie risikofaktore – ouderdom, gewig, verhoogde cholesterolvlakke en dat hy ʼn man is – verhoog Trump se kans om ernstig siek te word.
Sy dokter het Vrydag gesê die president voel moeg en ontvang eksperimentele behandeling wat daarop gemik is om ʼn ernstige geval van Covid-19 te probeer verhoed.
Hy is na die weermaghospitaal geneem waar hy fyn dopgehou kan word en dokters vinniger sal kan reageer as hulle skanderings van byvoorbeeld sy longe wil doen.
Going welI, I think! Thank you to all. LOVE!!!
— Donald J. Trump (@realDonaldTrump) October 3, 2020
Dr. Gregory Poland, ʼn kenner in aansteeklike siektes by die Mayo-kliniek, het gesê die kans is goed dat Trump, soos die meeste mense, net matige simptome sal ondervind. Covid-19 is egter steeds ʼn uiters onvoorspelbare siekte: In sommige gevalle sterf jong mense, terwyl bejaardes byvoorbeeld goed herstel.
Sean P Conley, Trump se dokter, het Vrydagaand laat gesê die president lyk goed en rus nadat hy in die Walter Reed- mediese sentrum opgeneem is.
“Hy benodig geen bykomende suurstof nie, maar in oorleg met spesialiste het ons besluit om met remdesivir-behandeling te begin. Hy het sy eerste dosis voltooi en rus gemaklik,” het Conley in ʼn veklaring wat die Withuis uitgereik het, gesê.
Die vervaardigers van remdesivir sê dit kan die kans op sterfte in ernstige gevalle van Covid-19 heelwat verminder. Die medikasie is aanvanklik ontwikkel om ebola te behandel. Sommige navorsing het bevind dit kan die hersteltyd van pasiënte verminder, terwyl ander weer bevind het dit hou geen voordele vir Covid-19-pasiënte in nie.
Trump het op sy eie na Marine One, die presidensiële helikopter, gestap voordat hy na die hospitaal gevlieg is. In ʼn video wat opgeneem is kort voor sy vertrek, bedank die 74-jarige president mense vir hul steun. Hy sê ook Melania vaar goed. Sy het kopseer en ʼn hoes.
Die Amerikaanse presidentsverkiesing is oor net meer as ʼn maand en daar is toenemend kommer dat ʼn groot geleentheid wat Trump Saterdag by die Withuis aangebied het, die virus laat versprei het.
Twee senators, die president van ʼn universiteit en ʼn voormalige Trump-raadgewer het almal gister bekend gemaak dat hulle die virus opgedoen het. Trump se veldtogbestuurder het ook positief getoets.
Adj.pres. Mike Pence het negatief vir die virus getoets en volgens die Withuis is dit nie nodig vir hom om in kwarantyn te wees nie.
Trump is die afgelope ruk dikwels in die openbaar sonder ʼn masker opgemerk – ʼn besluit wat die Withuis geregverdig het deur te sê die president handhaaf ʼn sosiale afstand en dat sy nabye kontakpersone gereeld getoets word.
Meer as sewe miljoen mense in die VSA het reeds positief vir Covid-19 getoets.
— Donald J. Trump (@realDonaldTrump) October 2, 2020
Bronne: AP, Dpa
Wonder of Trump nie aspris aangesteek is deur sy opponente nie . Politiek is mos n vuilspel.
Nou dat jy wonder oor die aansteek, wat van die lieg siekte van Trump, dis seker ook aangesteek.
Grootste leuenaars regeer SA vergeet van Trump.
En op so’n kritieke tyd…..
Sterkte en word gou gesond
Nou word hy beskuldig dat hy die virus versprei het. Alles net voor die verkiesing. What next?
Maar het hy dan nie in April voorgestel dat mens bleikmiddel moet inneem om sodoende die virus te bekamp nie? Seker nie sy eie raad gevolg nie.
Sommige van die kommentare laat my weereens tot die besef kom, dat die woorde “dumb thick and difficult” die spyker op die kop slaan.
Kom ons kyk of MM my gaan toelaat om jou ook “dumb thick and difficult” te noem soos wat jy ander kommentators noem. Of beide moet toegelaat word, of beide moet verwyder word.
As die skoen jou pas trek hom aan.
Sommige kommentators hier lieg verskriklik seker êrens aangesteek…..
Van die kommentaters laat my tot die besef kom, dat sommiges nie “dumb think and difficult” is. Schalk raak oorspronklik en “don’t be a copy cat.”
Hy moet net die teen malaria doepa drink wat hy sê werk. Dit werk!!!
Biden is die demokrate se ou Trojaanse ou perd. Dis ‘n slinkse spel wat die opposisie speel met die ou verwarde oom. Ons moet bid en hoop Trump bly behoue.
Ja dis nou die grootbek wat nie wil masker dra nie.Met die gevolge???????