Trump ‘onbepaald’ verbied op Facebook, Instagram

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Facebook het die uittredende Amerikaanse president Donald Trump “onbepaald” op dié platform asook op Instagram verbied nadat die president Facebook Woensdag gebruik het om glo geweld by die Capitol in Washington DC aan te blaas.

Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Facebook, het Donderdag op sy Facebook-blad gesê ’n aanvanklike 24 uur-lange verbod wat Woensdag op Trump se Facebook-rekening ingestel is, word verleng weens Trump se “gebruik van dié platform om gewelddadige opstand teen ʼn demokraties verkose regering aan te blaas”.

Dit volg nadat Trump Woensdag in ʼn video wat op Facebook, Twitter en YouTube geplaas is, aan sy ondersteuners wat die Capitol bestorm het gesê dat hy lief is vir hulle voordat hy hulle aangesê het om huis toe te gaan. Hy het ook valse bewerings oor verkiesingsbedrog herhaal.

Argieffoto: Pixabay.com

Trump se Facebook-rekening sal tot minstens 20 Januarie geblok word wanneer Joe Biden as die 46ste president van die VSA ingehuldig word.

“Ons glo dat die risiko’s eenvoudig te groot is om die president toe te laat om in hierdie tydperk van ons diens gebruik te maak,” het Zuckerberg gesê.

“Ons verleng daarom die verbod wat ons op sy Facebook- en Instagram-rekening geplaas het onbepaald vir ten minste die volgende twee weke totdat die vreedsame oorgang van mag voltooi is.”

Die Amerikaanse kongres het Joe Biden se oorwinning in die presidentsverkiesing vanoggend bevestig. Trump het intussen gesê daar sal ’n “ordelike oorgang” tot Biden se presidentskap wees.

The shocking events of the last 24 hours clearly demonstrate that President Donald Trump intends to use his remaining…

Posted by Mark Zuckerberg on Thursday, January 7, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.