Trump onduidelik oor Sirië-aanval

President Donald Trump (Foto: AP Photo/Evan Vucci, File)

Die Amerikaanse president Donald Trump het Donderdag gesê ʼn moontlike aanval op Sirië kan “binnekort of later” plaasvind nadat hy aangedui het dat daar reaksie sal wees op ʼn vermoedelik chemiese aanval deur Basjar al-Assad se regering.

“[Ek het] nooit gesê wanneer ʼn aanval op Sirië sal plaasvind nie,” het Trump vroegoggend op Twitter gesê. “Dit kan binnekort of glad nie binnekort wees nie!”

Trump se boodskap kom ongeveer 24 uur nadat hy op Twitter gewaarsku het dat Amerikaanse lugaanvalle “op pad is”, ondanks ʼn onderneming van Rusland om enige Amerikaanse missiele af te skiet wat sy bondgenoot Sirië teiken.

“Wees gereed Rusland, want hulle is op pad, mooi en nuut en ‘slim’!” het Trump Woensdag op Twitter geskryf, in verwysing na missielaanvalle wat waarskynlik lyk, sedert meer as 40 siviele burgers van Sirië verlede week in die rebelledorp Douma, naby Damaskus, gesterf het.

Kritici het Trump se boodskappe op Twitter veroordeel en daarop gewys dat hy gereeld die voormalige president Barack Obama aangeval het dat hy Amerika se militêre strategie verklap het. Volgens Trump het dié onthullings die vyand ʼn voordeel gegee.

Trump het, gedurende sy presidentskap, daarmee gespog dat hy nie voortydig sy planne bekendmaak nie. Toe hy in April 2017 ʼn aanval in Sirië oorweeg het, het hy gesê: “Een van die dinge wat julle van my sal merk, is dat ek militêr nie daarvan hou om te sê waarheen ek op pad is of waarmee ek besig is nie.”

Amerikaanse beamptes het dit Woensdag benadruk dat beplande lugaanvalle sorgvuldig en noukeurig gedoen moet word, en dat diplomatieke en intelligensieagentskappe, asook die Pentagon, in die verlede betrek is. Maar sommige beamptes sê Trump se direkte dreigement is onverwags.

Trump het vroeër vandeesweek gesê sy administrasie werk aan ʼn reaksie oor die vermoedelik chemiese aanval. Hy het Maandag gesê ʼn besluit sal binne 24 uur tot 48 uur geneem word, ʼn spertyd wat nou reeds verval het en bemoeilik word deur planne vir ʼn internasionale inspeksie van die aanvalsgebied.

Trump het Donderdagoggend ook op Twitter gekla dat Amerika nie genoeg krediet ontvang dat hy gehelp het om die Islamitiese Staat-terreurgroep in die streek te oorwin nie. “Die VSA het in elk geval, onder my administrasie, baie gedoen om van Isis in die streek ontslae te raak. Waar is ons ‘Dankie, Amerika’?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Toegegee, maar hy is ook reg wanneer hy sê dat Amerika nie die erkenning kry wat hulle verdien met die hokslaan van die moslems.

Justice ·

Dit is jammer maar Twitter gaan nog tot Trump net soos vele politici se ondergang lei. Dit lyk partykeer of die inskrywings na ure met ‘n stywe dop in die hand gedoen word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.