Trump ontplooi nog troepe na Irak

Betogers steek eiendom by die Amerikaanse ambassade in Bagdad, Irak aan die brand (31 Desember 2019) (Foto: AP Photo/Khalid Mohammed)

Die Verenigde State van Amerika sal dadelik 750 bykomende soldate na Irak ontplooi, het die Pentagon Dinsdag gesê, ná ʼn groep betogers die Amerikaanse ambassade in Bagdad aangeval het.

Dit volg ná die VSA oor die naweek aanvalle geloods het op burgermagte in Irak en Sirië.

“Die ontplooiing is gepas en ʼn voorlopige maatreël in reaksie op ʼn toename in dreigementvlakke teen die Amerikaanse personeel en fasiliteite, soos wat ons vandag in Bagdad gesien het,” het Mark Esper, Amerikaanse minister van verdediging, in ʼn verklaring gesê.

Esper het gesê die bykomende soldate sal binne die volgende paar dae ontplooi word.

Duisende ondersteuners van die burgermagte het Dinsdag in die Green Zone in Bagdad bymekaar gekom, waar talle regeringskantore en buitelandse ambassades geleë is.

Ooggetuies het aan die dpa-nuusagentskap gesê betogers het die buitekantste muur van die Amerikaanse ambassade oorgesteek en wou ook ʼn tweede muur oorsteek, maar kon nie verder vorder of die hoofgebou bereik nie.

Amerikaanse soldate (SPMAGTF-CR-CC) berei voor om ontplooi te word (31 Desember 2019) (Foto: U.S. Marine Corps photos by Sgt. Robert G. Gavaldon via AP)

Betogers het “Death to America” gedreunsing en later een van die hekke van die Amerikaanse ambassade aan die brand gesteek, ondanks versoeke van die Irakese premier, Adel Abdel-Mahdi, dat hulle die gebied moet verlaat.

Pres. Donald Trump het gesê Iran sal aanspreeklik gehou word vir die lewensverliese en skade. Die burgermagte word na bewering deur Iran ondersteun.

“Hulle sal ʼn groot prys betaal! Hierdie is nie ʼn waarskuwing nie, dit is ʼn dreigement. Voorspoedige Nuwejaar!” het Trump op Twitter geskryf.

Alhoewel Trump Iran aanspreeklik hou, het Tehran Washington se “irrasionele reaksie” op die betogings veroordeel en enige betrokkenheid ontken. “Washington moet die feit aanvaar dat hy deur Irakese beskou word as ʼn ‘besettingsmag’ in ʼn soewereine staat en daarom is daar betogings teen die VSA,” het Abbas Mousavi, woordvoerder van die buitelandse ministerie in Iran, gesê.

Die Amerikaanse aanvalle oor die naweek in Irak en Sirië het die Kata’ib Hezbollah-burgermagtegroep geteiken, wat beskuldig is vir die aanval waartydens ʼn Amerikaanse burger dood is. Hashd al-Sha’bi, wie se ondersteuners die Amerikaanse ambassade Dinsdag aangeval het, is ʼn sambreelgroep wat Kata’ib Hezbollah insluit.

Hashd Sha’bi het op sy beurt gesê 75 betogers is gewond ná veiligheidswagte van die ambassade van traangas en patrone gebruik gemaak het. Hulle het nie bevestig watter tipe ammunisie gebruik is nie.

Volgens die groep is 25 burgermagtelede dood en 50 beseer tydens die lugaanvalle.

Die VSA het reeds bykomende magte, insluitend aanvalshelikopters, ontplooi om die ambassade-kompleks te beskerm. Niemand is nog ontruim nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.