Trump pleit onskuldig in jongste saak

Donald Trump (Foto: Brendan Smialowski / AFP)

Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump het vandeesweek onskuldig gepleit op die strafregtelike aanklagte wat spruit uit bewerings dat hy herhaaldelik probeer het om die uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing in 2020 om te keer.

“Onskuldig,” het Trump Donderdag gesê nadat vier strafregtelike aanklagte, waarvan twee maksimum vonnisse van 20 jaar tronkstraf dra sou die oudpresident skuldig bevind word, aan hom in ’n hof in Washington voorgelees is.

Die spesiale ondersoeker Jack Smith het Dinsdag dié nuwe aanklagte teen Trump gebring.

“Dit is ’n baie hartseer dag vir Amerika,” het Trump ná sy verskyning aan verslaggewers gesê. “Dit is die vervolging van die persoon wat baie, baie stewig in die Republikeinse voorverkiesing voorloop en aansienlik voor [president Joe] Biden is.

“As jy hom dus nie kan klop nie, vervolg jy hom,” het Trump gesê en daarop gesinspeel dat die vervolging ’n strategie van Biden is.

“Ons kan nie toelaat dat dit in Amerika gebeur nie,” het die oudpresident gesê.

Trump sal nou na verwagting weer op 28 Augustus in die hof moet verskyn.

Dit is die derde keer sedert Maart vanjaar dat strafregtelike aanklagte teen Trump aanhangig gemaak word.

Die Republikein word in die jongste saak teen hom van sameswering om die Verenigde State te bedrieg en sameswering om amptelike verrigtinge te belemmer beskuldig, met verwysing na die gesamentlike sitting van die Kongres in Januarie 2021 waartydens die Demokraat Joe Biden tot wenner van die 2020‑verkiesing verklaar is.

Trump word in die klagstaat van 45 bladsye ook daarvan beskuldig dat hy destyds probeer het om Amerikaanse kiesers van ’n regverdige verkiesing te ontneem met sy valse bewerings dat hy die presidentsverkiesing van November 2020 gewen het.

“Kort ná verkiesingsdag – wat 3 November 2020 was – het die beskuldigde met sy kriminele plan begin,” lui die klagstaat.

“Die doel van die sameswering was om die wettige uitslag van die 2020-presidentsverkiesing omver te werp deur bewustelik valse bewerings van verkiesingsbedrog te gebruik.”

Luidens die klagstaat het Trump beplan om die destydse adjunkpresident Mike Pence se rol as voorsittende beampte by die gesamentlike sitting van 6 Januarie 2021 te laat gebruik om verskeie state se stemme uit te gooi.

Pence het egter geweier en ’n openbare verklaring uitgereik waarin hy gesê het dat hy nie glo dat die grondwet daardie magte aan hom verleen nie.

Talle ondersteuners van Trump het later daardie dag die Kongresgebou bestorm terwyl Trump getwiet het dat sy adjunkpresident “nie die moed gehad het om te doen wat gedoen moes word nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

A ·

“Met U volle respek, Edelagbare Regter, ek wil my saak betwis en my onskuld bewys met die volgende:”

*maak stem skoon*

“Hunter Biden skootrekenaar.”

“Dit is al.”

– Die baie slim, en durf ek sê, die aantreklike, Donald Trump.

Nommer 7 ·

‘n Beskuldigde se skuld of onskuld word nie bepaal deur iemand anders se skuld of onskuld nie. Ek persoonlik vind nie oranje gesigroom aantreklik nie.

Blomme ·

SA benodig so leier wat nie gewildheid nastreef nie maar wel ń varandering probeer maak.. Juis om daardie rede is hy so ongewild.

Stef ·

Dat iemand nog al die snert kan glo wat die korrupte demokrate teen hom opdis gaan my verstand te bowe.

Koen ·

As hy onskuldig bevind word sal hulle ou trompetter uitlos. Tot dan moet die gereg sy gang gaan. Of wil jy hê dat alle kriminele uitgelos moet word en nie voor die hof gedaag word nie.

Charles ·

Eintlik die wêreld en daardie is nie omdat hulle Trump nie wou uitlos nie. Dinge gebeur want dis iemand se wil.

piet ·

Dis fantasties dat sy bewerings van verkiesingsbedrog nou in die hof getoets gaan word. Ek dink hy het gereken hy kan se wat hy wil en nou boomerang dit. Laat hy sy bewyse van verkiesingsbedrog voorle, ons wag.

Koos 100 ·

Piet, ons sit nie langs dieselfde vuur en braai saam nie, maar hierdie keer stem ek saam met jou.

Nommer 7 ·

Al die bewyse is in sy kop. Hy moet net ‘n manier vind om dit te print, dit is die uitdaging!

Koos 100 ·

In ‘n hof word gewerk met bewyse. Voor dat dit hof toe gaan is moet daar ‘n ondersoek wees om bewyse in te samel. Ek sal nie kan glo dat hy voor die hof gedaag word sonder dat daar enige bewyse teen hom is nie.
Jammer genoeg het hy nog tonne steun in SA, al het hy net mooi niks gedoen vir SA in sy termyn as president nie.

Harley Davidson ·

Vuil politiek deur die Biden admin is wat hier betrokke is.

Charles ·

“Vuil Politiek” is n onnodige gebruik van twee woorde met presies dieselfde betekenis.

Nommer 7 ·

‘n Admin van watter aard ookal, sal geen betrokkenheid kan he nie. ‘n Jurie sal na getuienisse luister en ‘n beslssing maak. Sover is al die staatsgetuies Republiekeine.

wildtuin ·

Die Biden administrasie en hulle neocons het ‘n vuil mentaliteit, hulle is begig om hulle eie land op te foeter sowel as Oekraïne.

Nommer 7 ·

Die ironie is dat Trump nou aangekla word na aanleiding van getuienis alreeds gelewer deur 6 Republiekeine.

tweeling ·

In die sogenaamde Vrede Nulane saak was daar ook met sogenaamde bewyse in die hof gewerk, die staat was baie oortuig dat hulle die “bewyse” reg het. Wat het gebeur, die regter het die egtheid van die bewyse betweifel en die saak is uitgegooi

Marthinus W ·

Onthou jy die kokaine by die Withuis [dis seker waar die naam vandaan kom] nou die dag, en Hunter wat op 4 Julie erg gesnuif gelyk het? Die FBI kon geen bewyse kry nie; die saak is laat vaar. Kardinaal Richelieu het glo gese, “Gee my een sin van n eerlike man, en ek sal iets daarin vind om hom mee op te hang”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.