Trump sal met Kim Jong-un ontmoet

Kim Jong Un van Noord-Korea.

Die VSA se pres. Donald Trump het ingestem om die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-un, te ontmoet vir ʼn vergadering – ʼn ingrypende verwikkeling te midde van maande se verhoogde spanning rondom kernbedreigings waartydens die twee leiers militêre dreigemente heen en weer geslinger het.

Die vergadering tussen Trump en Kim sal na verwagting in Mei plaasvind, hoewel die presiese datum nog nie aangekondig is nie. Dit is nog nie duidelik of die veelbesproke ontmoeting in Washington of in Noord-Korea sal plaasvind nie.

The Guardian voorspel dit sal die diplomatieke ontmoeting wees wat die meeste aandag sal trek sedert Richard Nixon se ontmoeting met China se Mao Zedong of Ronald Reagan se ontmoeting met Mikhail Gorbatsjof.

CNN berig Kim het ook ingestem om sy land se kernkrag- en missieltoetse te staak. Maroela Media het vroeër berig Noord-Korea het einde verlede jaar gespog hy het ʼn kragtige nuwe interkontinentale ballistiese missiel (ICBM) suksesvol getoets wat die hele binneland van die VSA kan bereik. Kim se onderneming om kern- en missieltoetse te staak is iets wat nie net deur die VSA nie, maar ook deur die res van die wêreld verwelkom word.

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Alex Brandon

Volgens CNN het ʼn afvaardiging van Suid-Korea Donderdag in Washington DC geland vir ʼn inligtingsessie oor die Noord-Suid-gesprekke. Chung Eui-yong, Suid-Korea se nasionale veiligheidsadviseur, het Kim se uitnodiging vir die vergadering aan Trump oorgedra terwyl hy Trump ingelig het oor sy vier uur lange ete wat hy Maandag in Pyongyang met Kim gehad het.

Trump het ingestem om wel met Kim te vergader. Chung was versigtig om Trump te loof vir die jongste verwikkelinge, maar het gesê die Amerikaanse president se “leierskap” en sy administrasie se druk op die Noord-Koreaanse regime het tot hierdie kruispad gelei.

Washington Post berig daar was nog nooit voorheen ʼn vergadering of selfs net ʼn telefoonoproep tussen die twee leiers van die VSA en Noord-Korea gewees nie, omdat Amerikaanse presidente versigtig was om Kim se regime te bekragtig deur die erkenning van ʼn leiersvlak-beraad op die wêreldverhoog.

Die nuusagentskap berig verder ʼn senior beampte van die Withuis het beklemtoon dat die VSA sal aandring op bewyse van die Noorde rondom sy erns oor sy belofte om kernkragtoetse te staak. Trump het aan sy administrasie gesê hy verwag dat die ernstige ekonomiese sanksies wat oor die afgelope jaar deur sy administrasie en die Verenigde Nasies teen Noord-Korea ingestel is, steeds gehandhaaf moet word in aanloop tot die vergadering met Kim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rupert Ashford ·

Vir iemand wat kwansuis geen idee het nie en nie eintlik daar hoort nie kry hierdie ou darem maar baie reg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.