Trump sal vrou nomineer om Ginsburg se posisie te vul

Pres. Donald Trump Saterdag tydens sy veldtog in Noord-Carolina (Foto: AP Photo/Chris Carlson)

Pres. Donald Trump het homself daartoe verbind om in die komende week ’n vrouekandidaat te benoem om Ruth Bader Ginsburg se posisie as regter van die Amerikaanse hooggeregshof te vul.

Dít ten spyte van die Demokratiese Party wat aanvoer dat Ginsburg se opvolger eers ná die verkiesing benoem moet word.

Ginsburg is Vrydag in haar huis in Washington DC weens komplikasies van metastatiese pankreaskanker dood. Sy was 87 jaar oud.

“Ek sal volgende week die naam van die benoemde aankondig. Dit sal ʼn vrou wees. Ek dink dit moet ʼn vrou wees, want ek hou eintlik baie meer van vroue as van mans,” het Trump Saterdag aan ondersteuners tydens ʼn veldtog in Noord-Carolina gesê.

Die Republikeinse Party is vasbeslote om die vakante pos so gou moontlik te vul aangesien dit die geleentheid bied om ’n konserwatiewe meerderheid in die land se hoogste hof te verseker.

Ruth Bader Ginsburg (Foto: AP Photo/Alex Brandon, File)

Maroela Media het vroeër berig die senaat, tans onder die beheer van die Republikeine, sal stem sodra Trump iemand benoem het om Ginsburg te vervang.

Joe Biden, die Demokratiese presidentskandidaat, hou egter voet by stuk dat Ginsburg se posisie nie gevul moet word totdat die nuwe Amerikaanse president verkies is nie. Dié verkiesing vind op 3 November plaas.

Ginsburg het luidens berigte voor haar dood aan haar kleindogter Clara Spera gesê haar grootste wens is dat haar posisie nie gevul word totdat die nuwe Amerikaanse president verkies is nie.

Ginsburg was die oudste regter nóg en die tweede vrou om as regter in die Amerikaanse hooggeregshof te dien – ʼn posisie wat sy 27 jaar lank beklee het.

Ginsburg is in 1993 deur pres. Bill Clinton aangestel en het sedertdien as die mees senior lid van die hof se liberale vleuel gedien.

Bronne: BBC, CNN, SkyNews, ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacobus ·

As dit van partye afhang wie verkies moet word het die proses ernstige gebrek. Die Demokrate is soos die ANC desperaat om hulle sin te kry met alles. Spel niks goed vir toekoms nie

Yolandie ·

Jacobus laat ons dan maar bid dat Trump die komende verkiesing wen. Want as die Demokrate hulle kloue nog verder in Amerika kry, sal dit die begin en einde van Amerika wees. En dit voorspel niks goed vir die wereld nie.

Die Wolf ·

Dit is Trump se goeie reg om die pos te vul. Die Republikeine is immers nog die regerende party. Dit klink so vir my dat die demokrate en n sekere party by ons onder dieselfde kam geskeer moet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.