Trump sê kerke is ‘noodsaaklik’

Donald Trump, president van die VSA. (Foto: Alex Brandon/AP)

Die Amerikaanse president Donald Trump het kerke en ander plekke van aanbidding as “noodsaaklik” verklaar en ʼn beroep op goewerneurs gedoen om kerke toe te laat om te heropen, selfs al is sekere gebiede steeds in ʼn staat van afsondering weens die Covid-19-pandemie.

Trump het gedreig om sy presidensiële mag te laat geld sou goewerneurs dié besluit verontagsaam.

“Goewerneurs moet die regte ding doen en die baie belangrike en noodsaaklike geloofsinstellings toelaat om nou te open, dié naweek,” het Trump Vrydag gesê.

Op ʼn vraag watter gesag Trump het om goewerneurs se besluite te ignoreer, het Kayleigh McEnany, die Withuis-perssekretaris, gesê sy gaan nie ʼn teoretiese vraag beantwoord nie.

Trump beywer hom vir ʼn heropening van die VSA terwyl hy probeer om die bittere ekonomiese gevolge – net maande voor ʼn herverkiesing – van die nuwe koronavirus om te keer. Wit, evangeliese Christene is van die president se lojaalste ondersteuners en die Withuis was reg deur die krisis versigtig om na hul belange om te sien.

Staatsgesondheidsagentskappe het mense afgeraai om byeenkomste met meer as tien mense by te woon en het Amerikaners aangemoedig om ʼn afstand van ses voet (1,8 m) van mekaar te handhaaf.

Kerkdienste was tot dusver groot verspreiders van die nuwe virus. Iemand wat ʼn Moedersdagdiens in die noorde van Kalifornië bygewoon het – in weerwil van die goewerneur se verbod op die byeenkoms – het later positief vir Covid-19 getoets en meer as 180 ander kerkgangers aan die virus blootgestel.

Trump het die belang van kerke in talle gemeenskappe benadruk en gesê plekke van aanbidding – kerke, sinagoges en moskees – is noodsaaklike plekke wat noodsaaklike dienste verrig.

“Sommige goewerneurs beskou drankwinkels en aborsieklinieke, maar nie die kerk nie, as noodsaaklik. Dis nie reg nie. Ek herstel dus dié ongeregtigheid en verklaar plekke van aanbidding noodsaaklik.

“Hierdie is die plekke wat ons samelewing bymekaar en ons mense verenig hou.”

Sommige groepe het Trump se stelling verwelkom, terwyl ander dit as onverantwoordelik bestempel het.

“Geloof is noodsaaklik en geloofsgemeenskap is nodig, maar nie in ʼn vorm wat die mense wat daaraan deelneem in die gevaar te stel nie. Die virus onderskei nie tussen verskillende soorte byeenkomste nie en die president moet ook nie,” het rabbi Jack Moline, president van die Intergeloofsalliansie, gesê.

Die appèlhof het intussen die Kaliforniese goewerneur Gavin Newsom se verbod op kerkdienste bekragtig in ʼn verdeelde uitspraak wat geloofsleiers, wat reeds aanvoer die staat vertrap hulle geloofsvryheid, na verwagting net verder die josie gaan inmaak.

Newsom het onderneem om Maandag ʼn plan vir die heropening van kerke voor te lê nadat hy voorheen gesê het die heropening is “net ʼn paar weke ver in die vooruitsig”.

Sommige kerke wat hul deure sonder toestemming heropen het, was reeds die bron vir die verspreiding van die nuwe koronavirus.

Die VSA het in dié stadium meer as 1,6 miljoen bevestigde Covid-19-gevalle en meer as 98 000 mense in dié land is al weens die nuwe virussiekte dood.

Bronne: AP, DPA, Worldometers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Michael 1 ·

As die wêreld se beste leier so sê dan gaan ek saamstem, die man het meer leierskap en integriteit eienskappe as wat die anc regering gesamentlik nie het

Retha ·

Ons klaar onder die Chinese mag en die laat nie Kerke en Christene toe om te aanbid nie

Vrystater ·

Trump is in groot moeilikheid met sy ontkenning van en swak besluite oor die voorkoming van en die verspreiding van die virus. Dit het nou gelei tot veel groter werkloosheid in die VSA as toe Obama die subprimakrisis se gevolge by Bush oorgeneem het.
Tesame daarmee is die VSA se sterftesyfer agv die virus op pad na 100,000 toe, ver verby China, of enige ander land, s’n, tot op hede.
‘n Politikus wat só in die moeilikheid is soos Trump probeer enigiets om geloofwaardigheid terug te wen.
Met sy gewetenlose moraliteit is sy stelling dat plekke van aanbidding noodsaaklike dienste verrig blote oëverblindery. Hy het geen bewys dat so ‘n oopstelling nie die infeksie verspreiding verder sal laat toeneem nie. Al noodsaaklike diens wat só ‘n oopstelling sal vermag, is om noodsaaklike verlore steun vir sy presidensiële herverkiesing te probeer terugwen van liggelowige kerkgangers.
Trump is ‘n gevaar vir die VSA self, asook vir die res van die wêreld.

Nell ·

Dan wil ek nie weet in watter toestand die VSA teen hierdie tyd sou gewees het as Alibama die president was nie. Veral nie met raadgewers soos Clinton et al nie.

Human ·

Vrystater moet nie jou tyd mors met Don Tantrum Trump se juig kommando, hulle is horende doof en siende blind wat hulle afgod se doen en late aanbetref.

Jakes ·

Goeie besluit Pres. Trump.
Hy weet ook dat jy nie in lockdown kan bly tot daar geen virus van watter aard ookal bestaan nie.

Ian ·

So, almal wat ‘n kerkdiens bywoon en siek word het die virus daar gekry en nie in een of ander winkel of ander plek nie. Ai hoe slim van julle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.