Trump se organisasie van taksbedrog verkla

Allen Weisselberg verlaat Donderdag die hof in New York (Foto: Michael M. Santiago / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images via AFP)

Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump se maatskappy en dié maatskappy se lang dienende finansiële hoof het Donderdag in ʼn hof in New York onskuldig gepleit nadat hulle van onder meer belastingbedrog aangekla is.

Die Trump-organisasie en die 73-jarige Allen Weisselberg word ná ʼn ondersoek van byna drie jaar deur die distriksprokureur van Manhattan daarvan beskuldig dat hulle die Amerikaanse deelstaat New York deur middel van ʼn belastingontduikingskema 15 jaar lank bedrieg het.

Weisselberg het gedurende die tydperk na bewering belasting op $1,7 miljoen aan inkomste ontduik wat verband hou met byvoordele wat deur sy werkgewer verskaf is.

Die voordele het oor die jare glo privaat skoolonderrig vir familielede, die huur van Mercedes-Benz-motors en die huur van ʼn woonstel in Manhattan ingesluit.

Die Trump-organisasie en Weisselberg word nou deur 15 aanklagte, waaronder belastingbedrog en die vervalsing van sakerekords, in die gesig gestaar. Die ernstigste aanklag hou ʼn maksimum vonnis van 15 jaar in.

Weisselberg het hom Donderdag aan die owerhede oorgegee en is intussen weer vrygelaat nadat hy sy paspoort ingedien het. Alan Futerfas, die Trump-organisasie se regsverteenwoordiger, het namens die maatskappy onskuldig gepleit.

Die saak word weer in September aangehoor.

Die Trump Organisasie is ʼn ongenoteerde familie-onderneming wat gholfklubs, hotelle en luukse eiendomme besit.

Trump het vroeg 2017 die leisels van die onderneming aan sy twee oudste seuns en Weisselberg oorhandig toe hy as president ingehuldig is.

Nóg Trump nóg sy familielede word in dié stadium aangekla, hoewel die aanklagte as ʼn terugslag vir die oudpresident bestempel word wat aangedui het dat hy moontlik in 2024 weer as presidentskandidaat wil staan.

Trump (75) het intussen die aanklagte as polities gemotiveerd bestempel en die aanklaers daarvan beskuldig dat hulle Amerika “verdeel”.

Die Trump-organisasie het vroeër gesê aanklaers gebruik Weisselberg bloot as ʼn pion in ʼn poging om die voormalige president skade aan te doen. “Dit is nie geregtigheid nie. Dit is politiek,” het die maatskappy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

pestilensie ·

1,7m oor n klompie jare dui op petty aanklagtes wat baie maklik buite die hof geskik kon word

Siebert ·

Die anti -Trump spul sal alles in hul vermoë doen om te sorg dat Trump polities uitgeskakel word. Kyk gerus na die TV kanaal Newsmax om die ander kant van die verhaal te sien. Nie net na wat CNN en kie berig nie.

Die Boerepompie ·

Dink hulle hap lug daar sal.nie iets huur van kom.nie

Natasha ·

Dis hoogtyd dat al die geraamtes uit die kas kom! Trump dink hy is bo die wet verhewe en sodra iemand hom verantwoordelik wil hou dan skree hy heksejag. Iemand moet dalk vir hom laat verstaan dat die heelal nie om hom draai nie.

Wat op dees Aarde ·

Trump is niks behalwe Zuma se Amerikaanse eweknie nie.

Belinda ·

1.7m is seker kleingeld vir Trump. Daai Biden president probeer net Trump sleg maak. Trump was n goeie christelike president. Biden is weird en snuif mense.

Bjorn ·

Lekker lag ek nou, ja daai Biden is nogal weird. Net so weird soos die mense wat Trump so erg haat vir geen geldige rede nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.