Trump se oud-dokter ‘versteek blomkool in kapokaartappels’

Pres. Donald Trump se voormalige dokter sê hy het hard probeer om Trump te help gewig verloor. (Foto: Instagram)

Donald Trump se voormalige dokter het onthul hoe hy blomkool in die Amerikaanse president se kapokaartappels laat inwerk het in sy (mislukte) pogings om Trump te help gewig verloor, berig Sky News.

Dr. Ronny Jackson, wat nou sy eie veldtog voer om ʼn Republikeinse kongreslid te word, het ook gesê hy wou oefenmasjiene by die Withuis laat installeer.

Sy doelwit was om Trump, wat beweer hy beskou sy teenwoordigheid op die gholfbaan as oefening,  te help om vier tot sewe kilogram te verloor.

Jackson het aan die New York Times gesê een van die dinge waaroor hy die meeste spyt het, is dat hy sy pos verlaat het sonder om die president se oefenprogram deur te voer. Inteendeel, teen die tyd dat Trump weer ʼn ondersoek ondergaan het, het hy reeds amper twee kilogram aangesit.

“Die oefening het nooit so goed gewerk as wat ek gehoop het nie, maar ons het aan sy dieet gewerk,” het Jackson gesê.

“Ons het die roomys minder toeganklik gemaak en blomkool in die kapokaartappels ingewerk.”

Trump het as 70-jarige president geword, wat hom die oudste inkomende Amerikaanse president maak. Hy het, nadat hy die stryd om die Withuis gewen het, ook ʼn kognitiewe toets ná sy mediese ondersoek ondergaan.

Die Amerikaanse president, Donald Trump. (Foto: Instagram)

Jackson het daardie tyd gesê hy glo Trump gaan sonder mediese probleme sy termyn voltooi.

Toe hy gevra is hoe ʼn man wat soveel hamburgers eet in so ʼn goeie toestand is, het Jackson gesê: “Hulle noem dit genetika. Sommige mense het fantastiese gene.” Hy het ook gesê as Trump die afgelope 20 jaar gesonder geëet het, sou hy moontlik 200 jaar oud kon word.

Ná sy ondersoek is bevind Trump is in ʼn “uitstekende toestand” vir ʼn Amerikaanse man van sy ouderdom, ondanks die feit dat hy oorgewig is.

Trump gebruik wel medikasie in ʼn poging om sy hoër-as-aanbevole cholesterolvlak te help verlaag en neem daagliks medikasie om haarverlies teen te werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Pragtig, pragtig! Vertel nou vir ons sulke lekker kosstories van ons eie presidente en hoe hulle die hoë cholesterolvlakke nie kon ontsnap nie, met natuurlik fotos by.

Strandloper

Oooo dog hy is net gasvry…

Pieter

Duidelik is pres. Trump swak opgevoed. Hy eet finger licking good KFC met mes en vurk, maar McDonalds se skyfies met sy vingers. Die Kolonel moet hom regsien.

Brakenjan

200 jaar, maar gene, ens… Klink soos iets wat die politici sou sê oor hul heerser in Noord Korea