Trump sit groot regstryd voort

(Foto: Mark Humphrey/AP)

Die Amerikaanse president Donald Trump het Dinsdag voortgegaan met regstappe om die uitslag van verlede week se verkiesing te betwis.

Die Amerikaanse prokureur-generaal, William Barr, het federale aanklaers intussen opdrag gegee om enige “beduidende” bewerings van verkiesingsongerymdhede te ondersoek.

Trump en sy Republikeinse bondgenote hou vol dat daar grootskaalse kiesbedrog gepleeg is.

Trump het steeds nie toegegee dat aangewese pres. Joe Biden die verkiesing gewen het nie. Biden het meer as die 270 stemme wat die kieskollege vereis op hom verenig om die stryd te wen.

Die Trump-kamp het reeds verskeie hofsake aanhangig gemaak waarin beweer word die verkiesingsuitslae was gebrekkig. Regters het reeds hofsake in Michigan en Georgia van die hand gewys en kenners sê Trump se kans om die verkiesingsuitslag in die howe te betwis, is bitter skraal.

Barr het Maandag aan aanklaers gesê dat verregaande bewerings nie gronde vir ondersoek moet wees nie, maar sy brief aan hulle het nie aangedui of die departement van justisie enige kiesbedrog wat die uitslag van die verkiesing kan raak, gevind het nie.

Hy het wel gesê hy gee aanklaers toestemming om beduidende bewerings van ongerymdhede met stemme en die tel van stembriewe te ondersoek.

Richard Pilger, wat reeds jare lank die direkteur van die verkiesingsbedrogeenheid is, het in ʼn interne e-pos sy bedanking aangekondig nadat hy kennis geneem het van die “nuwe beleid en die gevolge daarvan”.

Pres. Donald Trump en sy vrou Melania. (Alex Brandon/AP)

Biden se kamp het aangevoer Barr vuur Trump se verregaande bewerings oor bedrog aan.

“Dit is die soort bewerings wat die president en sy regsverteenwoordigers elke dag onsuksesvol maak, terwyl hul regsake die een ná die ander uit die howe gegooi word,” het Bob Bauer, ʼn senior Biden-raadgewer, gesê.

Trump se veldtog het Maandag ʼn hofsaak aanhangig gemaak om amptenare in Pennsilvanië te verhoed om Biden se oorwinning in die staat formeel te verklaar. Die bewering is dat die staat se posstemstelsel die Amerikaanse grondwet skend omdat dit ʼn onwettige tweeledige kiesstelsel skep waar ʼn persoon wat by ʼn stempunt opdaag aan groter oorsig onderwerp word as iemand wat ʼn posstem uitbring.

Die saak is aanhangig gemaak teen Kathy Boockvar, Pennsilvanië se staatsekretaris, en andere.

Prof. Jessica Levinson, verbonde aan die Loyola Law School in Los Angeles, het gesê die jongste hofsake gaan waarskynlik nie hond haaraf maak nie en klink soos ʼn oprakeling van talle van die betoë wat Trump se regspan ook buite die hofsale gerig het.

Trump se herverkiesingspan het Maandag gevra vir geduld terwyl bewerings van kiesbedrog ondersoek word. “Die verkiesing is nog lank nie verby nie,” het Kayleigh McEnany, die Withuis se perssekretaris – maar in haar hoedanigheid as Trump-raadgewer – gesê.

Biden het reeds begin werk maak van sy oorgang na die Withuis en gaan onder meer wegspring met die Gesondheidsorgwet, ook bekend as Obamacare.

Trump en sy Republikeine het al herhaaldelik probeer om weg te doen met die wet wat in 2010 onder oudpres. Barack Obama deurgevoer is. Biden was destyds sy adjunk.

Terwyl Biden met sy werk begin, oorweeg sy span regstappe oor die federale agentskap se vertraging in die erkenning van Biden se oorwinning oor Trump. Die Algemene Dienste-administrasie (GSA) erken gewoonlik ʼn presidensiële kandidaat wanneer dit duidelik is wie gewen het sodat die oorgang van mag kan begin plaasvind.

Dit het steeds nie gebeur nie en wetgewing stippel ook nie uit wanneer presies die administrasie moet optree nie. Emily Murphy, wat in 2017 as hoof van die GSA deur Trump aangestel is, het nog nie beslis dat ʼn wenner duidelik blyk nie.

ʼn Amptenaar in die Biden-kamp het aan verslaggewers gesê dit is nou tyd vir die GSA om die aangewese president te erken en as hy dit nié doen nie, sal die span regstappe oorweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Genis ·

Ek hoop van harte dat die Biden kamp op hulle neuse duik.. Ek vertrou nie die sniffer en sy heksie nie.. Ek dink onder Biden gaan ons baie proteste sien opvlam in Amerika… Wet en order gaan maak gepaard met n goeie Christenskap…

Anoniem ·

Niemand het ooit gedink hy is ‘n “sniffer” totdat hulle die video gesien het nie, ne?

katerinadiekat ·

Videos. Daar is n hele paar. Ek is nie seker watter punt jy probeer maak nie.

Natasha ·

Lekker lag ek nou! Ek dink nie Trump is enigsins ‘n goeie voorbeeld vir Christenskap nie.

Cherokee ·

Sou jy sê Biden is, Natasha? My beurt om lekker te lag.

Nici ·

Baie geboelie deur die Biden kamp. Twintig jaar gelede was Amerika in dieselfde posisie todat die hof die saak beslis het. As Biden omgee vir die waarheid behoort hy nie om te gee dat sake afgehandel en klaar ondersoek word nie.

Rosie ·

Ek twyfel glad nie dat daar wel vuilspel was met die stemmery. Al wat ek kan sê is nou is hulle moeilikheid geboek. Daar word al klaar begin met die Gesondheidsorg van Obama. Die one world order is baie gierig en uitgeslape om baas te speel oor al wat mens is. Soos die spreekwoord lui spyt is ‘n goeie ding hy kom net te laat. En dit sal die Demokrate daar beslis baie gou uitvind.
Trump se geveg is nie teen vlees en bloed nie maar teen die bose magte en bose geeste in die lug.
Wakker slaap mense ons staan alleen.

Anoniem ·

Ons staan alleen teen wie? Dink jy Amerika gee een flenter om wat hier in RSA gebeur?

Jakes ·

Daar moet nog baie water in die see loop voor Biden amptelik as president bekragtig sal word.

Piet ·

Die posstemme se prosedures en geldigheid is mos reeds voor die verkiesing deur die verkiesingsowerhede vasgestel en bekragtig en AL die partye was ingelig. Hoe kan jy nou na die tyd se die posstemme het nie dieselfde “waarde of stemkrag” as die ander stemme nie. Trump raak nou totaal en al belaglik. As hy ‘n probleem met die posstem-prosedure gehad het, moes hy VOOR die verkiesing hof toe gehardloop het.

Jakes ·

Hier is ons ongelukkig oor staatskaping, diefstal en bedrog met goeie rede.
As die demokrate dit doen dan vind jy dat dit in orde is.
Stupidity is ongeneesbaar.

Aai ·

Piet ja die prosedure is geldig maar daar is ook ‘n wet wat se dat die geldigheid van elke stem nagegaan mag word en daar is al bewys dat dooie mense gestem het so ja ek ruik ‘n groot rot.

katerinadiekat ·

Nie net dit nie, daar was n hengse geknoei. Die Dominion sagteware wat gebruik word het duisende stemme van Trump na Biden oorgeskakel in een staat, en daai stelsel word in byna al die state gebruik. Hier was n massiewe geknoei.

Die Wolf ·

Stel voor doen eers goeie navorsing.
Feite:
* Persone wat gestem het se briewe is erens verlore en nie getel nie.
* Stembriewe word by die Kanadese Grenspos Gekry.
* Afgestorwenes het gestem.
*Republikeine word nie toegelaat by die stem tellery nie maar wel die Demokrate.ens,ens,ens. Net maar om n paar te noem.
Laat dit jou nie dink aan ons ou landjie nie. Miskien het n paar ANC konsultante vir hulle touwys gemaak hoe dit gedoen moet word.
Ek wonder of as jy in hulle skoene was of jy jou mond sou gehou het? Julle luister te veel wat CNN uitbasuin.

Inkpot ·

Dis nou tipies Trump.
Net so belaglik soos al sy getweet op Twitter.
Sal nie verbaas wees as Melania besluit om te skei nie.

Piet ·

Die berig se duidelik dat hy ‘n probleem met die hele posstem-sisteem in Pennsylvania het en hy beskou dit as ‘n “dubbele” sisteem. Dis wat ek van praat, hy’t dit mos geweet VOOR die verkiesing hoekom moan hy nou daaroor na die verkiesing? Dis iets anders as sy aantygings van verneukery met die tel van die stemme, ens. wat wel ondersoek sal word. Verstaan julle nou?

Mieke ·

As daar so baie geknoei en oneerlikheid teen Biden gevind wors,, het hy klaar bewys hoe oneerlik hy is. Op grond daarvan behoort hy uit sy amp ontslaan word. Wie het ‘n oneerlike president nodig?

JM ·

Biden is voortydog met al sy planne en kan gerus wag totdat hy die Withuis betree het. Hy is ‘n vuurvreter en totaal liberaal. ‘n Groot persentasie van Amerikaners is konserwatief en behoudend. Hier kom probleme.

Anoniem ·

As ‘n groot persentasie konserwatief is, hoekom het biden die verkiesing gewen?

Piet ·

Gelukkig het mens BEWYSE nodig as jy hof toe hardloop. Sover het Trump nog met GEEN bewyse voor ‘n dag gekom wat enige hof gaan oorreed nie.

katerinadiekat ·

Ek lees n Amerikaanse forum daagliks. Glo my daar Is bewyse.

gpsa ·

Wie ookal president in Amerika is het baie min invloed op mense van Suid Afrika. Ons is nie op hulle radar nie en hulle gee nie veel om wat hier aangaan nie. Trump het nie veel vir ons gedoen nie en ek dink Biden sal nog minder. Hulle weet waarskynlik nie waar ons is nie en soek ons erens in Mexico. Ons het meer as genoeg van ons eie probleme, as om te wonder oor hulle verkeising.

Die Wolf ·

Biden het al klaar belowe dat hy vir ou grote entstof gratis gaan voorsien.Nog nie eers ingehuldig nie en die bedelaars staan tou me t n brood onder die arm.

Kattebol ·

Biden sal iets doen vir SA… Solank jou kleur nie lig is nie…. Soos die SA regering met die covid hulp.

annie ·

Trump het gevra dat die verkiesing uitgestel word totdat Covid bedaar, maar die Outokrate wou ‘n koronèr slaan, En wil ons werklik glo dat Amerikaners wat uit soveel rasse en kombinasies daarvan bestaan, met partye wat so hatig op mekaar is en met soveel misdadigers in tronke, almal eerbaar is. En Biden is so goed en is Trump so sleg… Miskien moet ons ook die posstemmetode probeer.

Vrijburger ·

Hillary ‘n brug gebou?! Ek dink nie so nie, die teenoorgestelde. Onthou jy die “Not my president” slagspreuk? Vir 4 jaar was die Demokrate niks anders as ondermynende ‘spoilers’ gewees nie.

Wat ‘n jammerte dat die konserwatiewes, nie tot die Demokrate se vlak sal daal en vir die volgende 4 jaar presies doen wat die Demokrate die afgelope 4 jaar gedoen het nie.

Estelle ·

As ek so na die geknoei en korrupsie luister in Amerika sou ek kon sweer hul praat van Suid-Afrika. Ter wille van miljoene babas wat binnekort vermoor gaan word – siende dat Biden aborsie goedkeur tot op dag van geboorte – hoop ek Trump kan die korrupsie bewys. As mens n gewete het kan jy nie stem vir enigiemand wat aborsie goedpraat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.