Trump skeld vrou vry van vonnis ná Kim-vergadering

Pres. Donald Trump en Kim Kardashian (Foto: Twitter via Donald Trump)

Pres. Donald Trump van Amerika het die 63-jarige Alice Marie Johnson van ʼn lewenslange tronkstrafvonnis kwytgeskeld ná die televisiepersoonlikheid Kim Kardashian die saak verlede maand onder sy aandag gebring het.

Die Withuis het die nuus dié week in ʼn verklaring aan The New York Times bevestig.

“Hoewel die regering altyd baie streng teen misdaad gaan optree, glo ons aan tweede kanse vir diegene wat hulle skuld aan die samelewing betaal het en hard gewerk het om hulself in die tronk te verbeter,” lui die verklaring.

Johnson en haar familie was volgens die nuuswebwerf CBS baie emosioneel toe hulle ná 21 jaar herenig is. “Ek wil Donald Trump bedank,” het sy aan Amerikaanse media gesê. “Hy het my ʼn tweede kans op lewe gegee. En ek wil ook vir Kim Kardashian bedank – ek is nou vry om my lewe te lei en om oor te begin. Sy het aanhoudend vir my baklei; dít vir ʼn vrou wat sy nie eens ken nie. Ek het baie wat ek met my familie wil inhaal. Ek kan nie wag om weer te begin werk en terug te keer na my gemeenskap nie.”

Kardashian, wat in Oktober verlede jaar op Johnson se verhaal afgekom het nadat ʼn video oor haar lewe en die tronkstrafvonnis op sosiale media die ronde gedoen het, het oor dié nuus gesê: “Haar kwytskelding en vrylating is ʼn inspirasie en bring hoop vir soveel ander wat ook ʼn tweede kans verdien.”

Alice Marie Johnson (Foto: ANA)

Johnson was vir 21 jaar agter tralies nadat sy in 1996 tot lewenslange tronkstraf sonder parool gevonnis is. Johnson is gevonnis omdat sy glo kommunikasie tussen dwelmverkopers en aankopers bewerkstellig het. Sy het dié vonnis vir ʼn niegewelddadige eerste dwelmoortreding ontvang.

Trump se skoonseun, Jared Kushner, en Kardashian beraadslaag al maande lank oor Johnson en haar toekoms. Die televisiepersoonlikheid en Trump het einde Mei vergader om ʼn moontlike kwytskelding vir Johnson te bespreek. Hulle het ook gesels oor rehabilitasie vir gevangenes en vonnisopleggings.

Kardashian het vroeër gesê sy sal “alles in haar vermoë doen” om te verseker dat Johnson vrygelaat word. “Ek dink sy verdien regtig ʼn tweede kans. Ek sal doen wat dit ook al verg, daarom voer ek gesprekke met [beamptes van] die Withuis om haar saak op die president se tafel te probeer kry sodat ons aan ʼn manier kan werk om haar vry te laat.”

Dit was nie die familie se eerste poging om Johnson se vonnis te laat kwytskeld nie. Haar aansoek is in 2014 afgekeur. Johnson het destyds self daaroor gesê: “Dit is die laaste keer dat ek my familie deur die seer van verwagtinge gaan sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wilma ·

Sy moes nie vrygelaat word ni. Miljoene mense word vernietig deur dwelms

Ver links ·

Many others should then get the same treatment as first offenders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.