Trump teiken van ondersoek na geklassifiseerde dokumente

Oudpres. Donald Trump (Foto: Alex Brandon, AP)

Amerikaanse aanklaers het in soveel woorde aan oudpres. Donald Trump se regspan gesê dat hy die teiken is van ’n ondersoek na sy hantering van geklassifiseerde dokumente ná sy presidensiële termyn.

Die kennisgewing is afkomstig van die kantoor van die spesiale raadgewer Jack Smith, wat Trump se hantering van geklassifiseerde dokumente by sy Mar-a-Lago-landgoed in Florida ondersoek.

Die New York Times berig “twee mense vertroud met die saak” het gesê dit is nie duidelik wanneer Trump se span die nuus gekry het nie.

Kenners sê die kennisgewing is ’n teken dat Trump moontlik ook in dié saak strafregtelik aangekla gaan word (en binnekort ook).

“Niemand het vir my gesê ek word aangekla nie, en ek behoort nie aangekla te word nie, want ek het niks verkeerd gedoen nie,” het Trump Woensdag in ’n inskrywing op sy sosialemediaplatform Truth Social gesê.

“Ek het wel vir jare aangeneem dat ek ’n teiken is van die departement van justisie en FBI wat as wapen [teen my] gebruik word,” sê Trump, wat reeds in ’n afsonderlike saak strafregtelik vervolg word.

Die voormalige Amerikaanse president word in dié saak daarvan beskuldig dat hy sakerekords “herhaaldelik en op ’n bedrieglike wyse” vervals het in ’n poging om negatiewe inligting van stemgeregtigde lede van die publiek tydens die 2016- presidensiële verkiesing te weerhou.

Maroela Media het vroeër berig bokse vol geklassifiseerde dokumente is verlede jaar in polisievoertuie gelaai nadat die FBI in Augustus verlede jaar op Mar-a-Lago toegeslaan het.

Trump se prokureurs voer aan dat die oudpresident die dokumente per ongeluk ná sy presidensiële termyn tydens ’n chaotiese vertrek uit die Withuis geneem het en dit allermins doelbewus geneem en gestoor het.

Trump se privaat woning in Mar-A-Lago in Palm Beach, Florida (Foto: Giorgio VIERA/AFP)

Ondersoekers het egter ’n klankopname van Trump bekom waarin die oudpresident ruiterlik erken het dat hy ’n geklassifiseerde dokument van die Pentagon gehou het nadat hy die Withuis verlaat het.

Luidens Amerikaanse media het Trump se prokureurs Maandag met prokureurs van die departement van justisie vergader.

Die Washington Post het berig dat Trump se prokureurs hul saak wou stel dat hul kliënt nié aangekla moet word nie.

’n Amerikaanse regskenner het aan MSNBC gesê Trump gaan heel waarskynlik aangekla word.

“As ’n aanklaer vir jou sê jy is die teiken van hul ondersoek, beteken dit hulle verwag om jou aan te kla,” sê Renato Mariotti, ’n voormalige federale aanklaer.

Trump staan reeds tereg op 34 aanklagte van die vervalsing van sakerekords waarop hy onskuldig gepleit het.

Dít ná ’n swygbetaling van $130 000 (sowat R2,3 miljoen) destyds weke voor die verkiesing aan die porno-ster Stormy Daniels om te verseker dat sy nie besonderhede oor haar beweerde verhouding met Trump in 2006 verklap nie.

Trump het ten spyte hiervan homself verkiesbaar gestel as kandidaat vir die Amerikaanse presidentskap in 2024.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Renier ·

As hulle so hard probeer om hom uit die verkiesing te hou,is hulle bang vir hom. Not a fan,just saying.

Amelia ·

hoop hy word weer verkies Hy is nie bang om sy mond te hou nie enpraat waarheid

Treurwilger ·

En Biden, wie se regeringsdokumente in sy Delaware-garage rond lê, kom skotvry.
Dan verstaan mense nie wanneer daar gesê word die 2020 verkiesing is “gesteel” nie.
Met steel word o.a. bedoel die onderdrukking van negatiewe nuus, soos met bg. Biden-dokumente.

Hendrik ·

Daar is ‘n groot verskil tussen hoe Biden die saak hanteer het, en hoe Trump dit doen. Biden het onmiddelik sy volle samewerking gegee, terwyl Trump sy regspan opdrag gegee het om dokumente te versteek en die ondersoek te bemoeilik. Sê dit nie iets nie?

Treurwilger ·

Albei het dieselfde wet oortree.
Die regstelsel tref geen onderskeid nie, of behoort altans nie in ‘n beskaafde demokrasie nie.
Trump se dokumente was veilig agter slot en grendel. (Dis veiliger as in die ‘leaking’ Withuis óf die Biden-garage).

As iemand wat neersien op minder gekultiveerde belastingbetalende werkers dra jou mening by my geen gewig nie.

KatjieDeKat ·

Ek wens vir Amerika toe, net Demokraat presidente vir die toekoms. Laat hulle vir die komende dekades drink uit dieselfde bitter gifbeker wat hul op ons land forseer het. No mercy, no forgiveness, ever.

Hendrik ·

As iemand met dubbele burgerskap vind ek jou opmerking afstootlik. Mag die VSA ‘n goeie, eerbare Republikeinse kandidaat kry, vir wie mens nie jou neus hoef toe te druk om voor te stem nie. Meeste Christene in die VSA gebruik daardie term om na Trump te verwys.

KatjieDeKat ·

Dis jou goeie reg om my kommentaar afstootlik te vind. Maar ek voel soos ek voel, en ek gaan nie myself verraai deur te sê net wat ek dink ander mense liewer wil hoor nie. Die Afrikaners en blankes, eintlik Alle ordentlike landsburgers, wat nie die luukse van dubbele burgerskap het nie, moet maar leef en dikwels Sterf saam met die destydse besluite van die Amerikaners en hul regering. So ja, ek verag Amerika, en ek gaan nie verskoning vra daarvoor nie.

Geert ·

Die Amerikaners moet vat wat hulle uitgedeel het. Ek stem saam met KatjieDeKat. Hulle was die moontheid wat hoofsaaklik Suid Arfika vernietig het, hier is maar min oor. Moet ook nie terugkom met” jy verlang na die apartheid era ” nie, daardie kaart werk ook nie meer nie. Dit wat hier totstand gekom het is alles behalwe goed. Die Suid Afrika Eksperiment het klaaglik misluk.

Hendrik ·

Trump bly maar die VSA se Zuma. Vasgevang in talle hofsake, verskeie beskuldigings van verkragting, steun hoofsaaklik uit die polities ongeletterde deel van die bevolking, “sterk man” sindroom, en so kan mens aangaan.

Marthinus W ·

Hulle is nie “polities ongeletterd” nie, net arm bloukraagwerkers teen wie daar gediskrimineer word. Volgens hulle het Trump al sy verkiesingsbeloftes nagekom; Biden nie een nie. (Daar is n ondersoek na Joe en Hunter, dat hulle geld ontvang het vir “networking” weens hul posisie in die regering. Indien Amerika werklik n demokrasie is, sal die Bidens ook aangevat word, maar die FBI beskerm hulle.)

Hendrik ·

Daardie mense (hoofsaaklik manlike, wit, blouboortjie werkers) is polities ongeletterd omdat hulle agter Trump se “strong man” karrakter aanloop. Daar is baie ander Republikeine met ware Republikeinse waardes wat beter presidensiële kandidate is. As Zuma wit was, sou baie polities ongeletterde Afrikaners ook agter hom aangeloop het, soos die geval is met die nuwe boereverneuker Louis Liebenberg.

Treurwilger ·

Natuurlik is Trump geen engeltjie nie, maar hy is vasgevang in hofsake omdat hy ‘n teiken op sy rug het en voortdurend geteister word deur instansies wat hul oë sluit vir die Washington elite se oortredings.

Weet jy dat vise-president Biden die afdanking van ‘n ‘prosecutor’ in Oekraïne bewerkstellig het wat korrupsie sou ondersoek waarby die Bidens betrokke is?
‘n Bandopname daarvan bestaan, maar groot media swyg soos die graf.
Dis net één voorbeeld.

Boatsie ·

En so probeer ou mal Biden se “puppets” enige “trick” in die boek om vir ou DT vas te trek.
Sal maar wag en kyk wat hiervan kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.