Trump: Vergadering met Noord-Korea gaan voort

President Donald Trump praat met verslaggewers buite die Withuis in Washington ná sy vergadering met Kim Jong-tjol. Agter hom staan Mike Pompeo, Amerika se minister van buitelandse sake (1 Junie 2018). Foto: Andrew Harnik/AP

Pres. Donald Trump van die VSA het Vrydag gesê sy vergadering met die Noord-Koreaanse leier Kim Jong-un op 12 Junie gaan steeds voort.

Dit kom nadat hy verlede week aangekondig het dat hy dié langverwagte vergadering gekanselleer het.

Trump het ook Vrydag aangekondig dat hy tyd en wyl geen addisionele sanksies op Noord-Korea sal toepas nie. Volgens Trump het sy administrasie “honderde nuwe sanksies gereed”, maar sal dit nie toegepas word nie tensy gesprekke met Noord-Korea op ʼn dooiepunt uitloop.

Trump se aankondiging kom nadat Kim Jong-tjol, ʼn gesant van Kim Jong-un, Vrydagmiddag vir Trump by die Withuis besoek het. Kim Jong-tjol is die hoogste vlak Noord-Koreaanse amptenaar om ʼn amptelike besoek aan die VSA in 18 jaar af te lê.

Kim Jong-tjol is deur John Kelly, die stafhoof, by die Withuis ontvang en na binne geneem om met Trump te vergader. Kim Jong-tjol het ʼn brief van Kim Jong-un aan Trump oorhandig.

Kim Jong Un

Die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-un. Foto: AP Photo/Wong Maye-E.

Ná die vergadering met Kim Jong-tjol het Trump gesê die beplande vergadering vir 12 Junie sal voortgaan. Hy het gesê dit sal ʼn fout wees om nié met die vergadering voort te gaan nie.

Trump het gesê sy vergadering met Kim Jong-tjol het langer geduur as verwag, maar dat dit “baie goed gegaan het”.

Oor die brief van Kim Jong-un wat hy ontvang het, het Trump gesê hy het nog nie die brief oopgemaak nie, aangesien Kim Jong-tjol gesê het hy kan dit later lees. Die Amerikaanse president het gesê hy sal in ʼn stadium ook die inhoud van ʼn vroeëre brief wat hy van Kim Jong-un ontvang het, bekendmaak.

Trump het gesê die vergadering op 12 Junie in Singapoer sal “ʼn begin” wees. Hy het gesê hy sien uit na die dag wanneer hy al die sanksies teen Noord-Korea kan ophef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johanna Botha ·

Doen Trump iets reg want die werloosheid in Amerika is die laagste ooit ….of het ek verkeerd gehoor ?

Yankee ·

Jy het reg gehoor. Na 25 jaar hier, en ook nie vir hom destyds gestem nie, moet selfs ek my kop skud. Amerika is besig om met n geweldige pas voort te storm. Moet stem, hierdie ou is ongelooflik.

Oom Kalahari ·

@Yankee, kan ons nie ‘n uitruil ooreenkoms aangaan om Pres Trump vir 5jaar te kry en jul vir CR.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.