Trump woedend ná FBI-klopjag by Mar-a-Lago

Wetstoepassingsowerhede Maandag buite die Mar-a-Lago-landgoed in Florida. (Foto: Giorgio Viera / AFP)

Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump is woedend nadat die FBI Maandag op sy Mar-a-Lago-landgoed in Florida toegeslaan en na bewering bokse vol geklassifiseerde dokumente in polisievoertuie gelaai het.

Dit is die eerste klopjag deur die FBI by ʼn woning van ʼn president of voormalige president van die VSA in verband met ʼn strafregtelike ondersoek.

“Niks soos hierdie het nog ooit met ʼn president van die Verenigde State gebeur nie,” het Trump ná die klopjag by sy Mar-a-Lago-landgoed in West Palm Beach bevestig. Die voormalige president was nie tuis toe beamptes van die FBI Maandag toegeslaan het nie.

Daar word beweer dat die klopjag verband hou met die moontlike wanhantering van geklassifiseerde dokumente wat na Mar-a-Lago gestuur is nadat Trump die Withuis in Januarie verlede jaar verlaat het.

Die VSA se nasionale argief het in Februarie gesê hy het 15 bokse dokumente van Mar-a-Lago teruggekry en die departement van justisie gevra om Trump se hantering van geklassifiseerde inligting te bekyk.

Die Amerikaanse departement van justisie weier egter vandeesweek om ʼn rede vir Maandag se klopjag te verskaf.

Donald Trump. (Argieffoto: REUTERS/Carlos Barria)

Trump word tans by verskeie strafregtelike ondersoeke betrek. Dít sluit in verlede jaar se aanval op die Amerikaanse kongresgebou toe talle beweerde Trump-ondersteuners die Capitol bestorm het.

Daar word aangevoer dat Trump sy ondersteuners opgesweep het.

Die voormalige president word ook daarvan beskuldig dat hy in 2020 druk op verkiesingsbeamptes in Georgia uitgeoefen het om die stemme te “vind” wat hy in daardie stadium nodig gehad het om die verkiesing te wen. ’n Aanklaer in dié suidelike staat het versoek dat ʼn ondersoek gelas word en talle getuies het reeds getuienis afgelê.

Intussen is die owerhede in New York besig om die Trump-organisasie se sakepraktyke te ondersoek. Daar word beweer dat die firma die belastingsowerhede doelbewus mislei het oor die waarde van die firma se eiendomsbesit.

Trump het Maandag se klopjag bestempel as die “bewapening van die regstelsel” deur “radikale linkse demokrate wat desperaat is om te verhoed dat [hy] 2024 vir president staan”.

Maroela Media het vroeër berig die 76-jarige Trump het nie sy kandidaatskap in soveel woorde tydens ʼn onlangse toespraak in Washington verklaar nie, maar dit laat deurskemer dat hy oor twee jaar dalk weer vir president wil staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar is al hoe sterker waarskuwings van ‘n naderende burgeroorlog in die VSA. Die moontlikheid datTexas en ander state die unie gaan verlaat is nie uitgesluit nie. Dis goeie nuus vir afstigters wêreldwyd, ook hier. Dink net, ons kan deel word van Texas! Hoohaa!!!

piet ·

Sluit hom toe en gooi die sleutel weg..en laat hom betaal vir die halfgeboude muur. LOL

Republikein in die Wes Kaap ·

Dan moet hy ‘n sel deel met die Bidens en Clintons.

adriaan isak ·

Biden is besig om aan die muur te bou.Wonder hoekom?

Republikein in die Wes Kaap ·

Biden se seun gaan die bakstene aan die Russe verkoop om die ooste van die Oekraïne af te sper.

Gaitsigubib ·

Piet ek sien daar is darm 3 mense wat jou kommentaar “like”. Ja, sommige mense het n renons in Trump, maar as jy hulle vra om te verduidelik eindig dit gewoonlik in ‘n gal afgaan sonder enige feite. Weet jy mens moet eintlik gewoonlik n misdaad pleeg voor jy opgesluit kan word? Die lasbrief is toegestaan deur n regter wat eers Jefferey Epstein se se regsverteenwoordiger was. Hierdie ver linkse regter behoort ondersoek te word – dis maar net iets om aan te herkou.

piet ·

Daar is blykbaar videomateriaal waar Trump belangrike staatsdokumente vernietig. Sal interessant wees indien hulle op ander staatsdokumente afkom wat hy by sy huis kon versteek het. Kom ons kyk maar.

Henry ·

Hulle weet as Trump weer president word gaan hulle tronk toe met al hulle skelm treke

Vexed ·

Alles sal nou in die stryd gewerp word om te probeer keer dat Trump nie weer as kandidaat kan staan nie. Dit is al wat nou hier besig is om te gebeur.

Hennie Biebouw ·

Antonio Gramsci se “Long March through the Institutions” is op ons. Die Westerse beskawing verteer homself van binne af.

Yolandie ·

As jy ‘n verkiesing “fair and square” gewen het dan is dit nie nodig om regsinstellings te gebruik om opponente teen jou uit die weg uit te ruim nie. Mens sou dink dat as Trump die krimineel is wat die demokrate sê hy is dat hulle te voorskyn sal kom met die bewyse. Dit is darem moeilik as die huidige regering nie vertroue het in die beleide wat hulle ingestel het om die lewens van alle Amerikaners beter te maak nie. So hoekom sien hulle vir Donald Trump as so ‘n bedryging???? Is dit omdat hulle alles moontlik gedoen het om Amerika laaste te stel en jan alleman nou besef die regering in bewind gee nie ‘n duit om vir hulle nie en dat hulle Amerika die land wat hulle regeer haat.

Anton ·

Volgens alles wat ek gehoor het was hy kalm, glad nie “woedend” nie. Hou op om CNN na te praat

Gaitsigubib ·

Anton jy is in die kol. Ek kon eenvoudig nie verder CNN, Don Lemmon & kie kyk nie. Vir vier jaar was hul n Anti- Trump propaganda kanaal. I.p v dat hulle die nuus bring is hulle beheb met hulle eie verwronge seksuele status en linkse propaganda.

piet ·

Tyd dat Trump se oneerlike bedrywighede behoorlik ondersoek word. Lyk my die FBI wil nou die net styftrek.

Dirk ·

Dit is goed so. Tyd dat die slang in die tronk gaan sit, hy en al sy kinders wat net so skelm is.

annie ·

… Soos met Nixon destyds? Die VSA is kamma demokraties en beveg outokratiese politieke stelsels. Bog. Demokrate sal met elke mag denkbaar verseker dat hul liberale nuwe-era-denke afgedwing word. Biden, Nancy en Soros lei die span. Die FBI het Trump van toeka ondermyn. Die groot stormloop is hul breinkind. Hoekom nie Biden se medisynekassie aan ons openbaar nie? Sou die oom skielik een oggend sê hy moet nou erken hy maak ‘n fout oor Rusland en aborsies is sy doodsberig volgende op CNN.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.