Tsitsipas hoor minute voor eindstryd van ouma se dood

Stefanos Tsitsipas tydens die eindstryd teen Novak Djokovic. (Foto: Christophe Archambault/AFP)

Stefanos Tsitsipas het Maandag op sosiale media gesê hy het Sondag, enkele minute voor die eindstryd teen Novak Djokovic, gehoor sy ouma is dood.

“My liewe ouma het vyf minute voordat ek op die baan gegaan het haar stryd verloor,” het Tsitsipas geskryf.

Die Griekse tennisster het in ʼn Instagram-plasing gesê dat hy sy eerste Grand Slam-eindstryd aan sy ouma opdra.

“Sy was ʼn wyse vrou wie se geloof in die lewe en bereidwilligheid om te gee nie vergelyk kan word met enige ander mens wat ek al teëgekom het nie. Dit is belangrik om meer mense soos sy in hierdie wêreld te hê. Omdat mense soos sy jou lewe gee. Hulle laat jou droom.”

(Foto: Stefanos Tsitsipas/Twitter)

Djokovic het Sondag tydens die eindstryd van die Franse Ope in Parys vir Tsitsipas met ʼn agterstand van twee stelle ingehaal om eindelik met 6-7, 2-6, 6-3, 6-2 en 6-4 te wen. Dit was Djokovic se 19de Grand Slam-titel.

Tsitsipas is een van die jong spelers in dié sport wat spelers soos Djokovic, Roger Federer en Rafael Nadal se prestasies kan najaag, maar nadat die 22-jarige die slegte nuus ontvang het, het hy gesê dat daar belangriker dinge in die lewe is as om trofees te wen.

“Die lewe gaan nie oor wen of verloor nie. Dit gaan daaroor om elke oomblik van jou lewe te geniet, of dit nou alleen of saam met ander mense is; om ʼn sinvolle lewe te lei sonder ellende en verwerping,” het hy geskryf.

“Om trofees in die lug te hou en die oorwinning te vier is iets, maar dit is nie alles nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elize ·

Kon hulle nie maar die nuus stil gehou het totdat hy so ‘n belangrike wedstryd klaar gespeel het nie?

Gideon ·

Die storie is verkeerd, hy het eintlik eers ná die tyd gehoor. Wat hy wel gesê het is dat sy ouma oorlede is 5 minute voor die wedstryd begin het.

JM ·

Ek het soveel respek vir Tsitsipas gekry oor sy edele beginsels. Hy is só reg.

Moedeloos ·

Hier kom my nuwe FAN. Ek het die wereldse respek vir hom. Welgedaan jong man.

Werner ·

Ek sien julle het net soos Netwerk24 jul feite verkeerd. Al wat Stefanos sê is dat sy ouma 5 minute voor die wedstryd oorlede is. Nêrens het hy gesê hy het dit geweet voor die wedstryd nie.
Ek is oortuig sy familie sou hom eers na die tyd in kennis gestel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.