Tsjeggië besorg afsondering sal lei tot vetsug by kinders

Argieffoto (Foto: khamkhor/Pixabay)

Dana Gavrinevova, ʼn sportonderwyseres aan ʼn sekondêre skool in Praag, sê sy is besorg oor die gewig wat haar skoliere opgetel het ná afsonderingsmaatreëls tydens die Covid-19-pandemie beteken het dat hulle afstandsonderrig moet ondergaan.

Kenners in die Tsjeggiese Republiek, net soos in talle ander lande, monitor toenemende bewyse dat die praktyk tot vetsug by kinders kan lei.

Skole in Tsjeggië is al sedert verlede herfs gesluit en die land het onlangs die voorloper geword wat betref Covid-19-infeksies per 100 000 mense.

“Dis eintlik verskriklik,” het Gavrinevova aan AFP gesê. “Sommige kinders is al weke lank net by die huis. Hulle is heeltemal tevrede om net op te staan en hul rekenaars aan te skakel.”

Zlatko Marinov, ʼn kenner in vetsug onder kinders by die Motol-hospitaal, sê ʼn krisis is op hande. Nog voor die pandemie het Marinov gesê die getal kinders in Tsjeggië wat oorgewig is, was “stabiel” op sowat 25% – en 60% van hulle het aan vetsug gely. Hy voorspel ʼn toename in die getalle. “Ons is besorg dat dit tot ernstige vetsug met metaboliese komplikasies kan lei.”

Die Tsjeggiese Republiek het tot dusver 1,2 miljoen gevalle en sowat 20 000 sterftes aangemeld en is tweede in die wêreld naas Slowakye vir nuwe sterftes per capita, aldus ʼn AFP-opname. Die regering het restaurante en meeste winkels gesluit, maar ook sportsentra en gimnasiums. Skole is al sedert Oktober gesluit, met die uitsondering van kleuterskole en eerste en tweede jaar van laerskool.

“Die afname in kinder- en volwasse fisiese aktiwiteit weens die regering se beperkings is merkwaardig,” het Jiri Suchy, ʼn professor in sportdidaktiek aan die Charles-universiteit in Praag, gesê. Hy hou vol die regering “het ʼn fout gemaak” toe skole gesluit is en mense aangesê is om by die huis te bly. “Die verbod op sportklasse, groepsportsoorte en oefeninge het ʼn noodlottige impak op die fisiese vorm van kinders en die jeug,” het Suchy aan die AFP gesê.

Die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) het in sy Stand van die Wêreld se Kinders-verslag in 2019 gewaarsku dat vetsug onder kinders wêreldwyd toeneem, met die getal oorgewig kinders tussen 5 en 19 wat van 10% tot sowat 20% toegeneem het tussen 2000 en 2016. Oorgewig kinders het ʼn groter risiko om tipe 2-diabetes en depressie op te doen, en om as volwassenes ook aan vetsug te ly. Vetsug-verwante siektes soos hartprobleme en diabetes is van die grootste oorsake van sterftes of gestremdhede in die ontwikkelde wêreld.

Tsjeggië het onlangs oorweeg om skole vanaf Maart vir meer skoliere oop te maak, maar het van besluit verander toe die daaglikse gevalle weer gestyg het.

Marinov stem egter nie saam nie. “Kinders moet so vinnig as moontlik terugkeer skool toe, onder veiligheidsmaatreëls, maar met sport. Kinders is nie ʼn stilstaande organisme nie. Hulle ontwikkel en hulle sal nie sinvolle fisiese aktiwiteit by die huis leer nie.”

Gavrinevova het gesê sy laat haar kinders voor hul rekenaars strek en video’s opneem waar hulle fietsry, skaats of ski – hulle alternatiewe tot sportlesse wat gekanselleer is. “Daar is egter baie kinders wat nie verstaan hoekom hulle dit moet doen nie. So uiteindelik vra ek hulle om op te staan en om ten minste met die hond te gaan stap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dana ·

My geboorteland. Ek stem 100% saam met Dana, ek het presies dieselfde ervaar met my dogter gedurende die afsonderingstydperk verlede jaar.

Elize ·

Een honderd persent. Ek het ook ‘n toename in gewig gesien in my kinders en hulle skoolmaats.

KB ·

Die probleem lê by die ouers. Dissiplineer beter.
Hou op om die kinders voor stok te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.