Tsjeggiese skoonheid is nuwe Mej. Wêreld

Krystyna Pyszková is die nuwe Mej. Wêreld. (Foto: Punit Paranjpe/AFP)

Krystyna Pyszková van die Tsjeggiese Republiek het die afgelope naweek stof in nagenoeg 111 skoonhede van regoor die wêreld se oë geskop om as die nuwe Mej. Wêreld gekroon te word.

Dié skoonheidskompetisie word as een van die oudste en mees gesogte internasionale kompetisies in dié bedryf geag en het al bekendes soos die aktrises Aishwarya Rai en Priyanka Chopra Jonas se loopbane op dreef gekry.

Pyszková, ʼn 23-jarige regstudent en model, het vinnig die kompetisie se uitdunrondtes deurgedraf om die top-12 te haal. Hier moes finaliste onderwerpe takel wat by die mees onlangse G20-beraad bespreek is.

Pyszková is gevra om lig te werp op ʼn kwessie wat spesifiek vroue se gesondheidsorg raak, en het gepraat oor die verwydering van die stigma en skaamte rondom menstruasie.

“Om as Mej. Wêreld gekroon te word, is ʼn droom wat waar geword het. Ek is diep geëerd om my land op ʼn wêreldwye platform te verteenwoordig,” het Pyszková gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat die Mej. Wêreld-kompetisie ʼn sterker welsyn en humanitêre fokus het as die gewilde Mej. Heelal-kompetisie danksy die skoonheid met ʼn doel-program. Mej. Wêreld het selfs in 2014 sy swemdrag-afdeling afgeskaf.

Die Mej. SA-organisasie het verlede Mei aangekondig dat dié liggaam voortaan nie meer plaaslike deelnemers onder hul vaandel na Mej. Wêreld sal stuur nie, maar eerder die aandag op Mej. Heelal en Mej. Supranasionaal sal fokus.

Dié nuus het gevolg nadat die Mej. Wêreld-skoonheidskompetisie op 11 Mei in ʼn Facebook-plasing aangekondig het dat Carol Bouwer, Suid-Afrikaanse aktrise en sakevrou, die nuwe lisensiehouer van Mej. Wêreld in Suid-Afrika is.

Daar word beweer dat dié besluit geneem is na aanleiding van die Mej. SA-kompetisie se besluit om deelname vir getroude vroue en moeders oop te stel, iets wat die Mej. Wêreld-kompetisie steeds nie toelaat nie.

Dr. Claude Mashego het dus vanjaar Suid-Afrika as die eerste “Mej. Wêreld Suid-Afrika”-finalis verteenwoordig.

Die Mej. Wêreld-kroon het tien jaar laas op ʼn plaaslike skoonheid se kop gerus toe Rolene Strauss met dié titel in 2014 weggestap het.

Bykomende bronne: CCN News, BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Onnie ·

Sjoe, dis dan net vel en been! Jy kan beswaarlik haar elmboog sien – lyk vir my soos ‘n geraamte met make-up. Dankie tog, smaak verskil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.