Tsjernobil-brand woed voort

ʼn Geiger-meter toon verhoogde vlakke van bestraling terwyl die bosbrand naby die Tsjernobil-kernkragstasie steeds woed. (Foto: Yaroslav Yemelianenko, AP)

Owerhede in Oekraïne het die span brandbestryders verdubbel waar ʼn brand al vyf dae lank hoofsaaklik in die onbewoonbare Tsjernobil-uitsluitingsone voortwoed.

Die uitsluitingsone is steeds met bestraling besmet van ʼn kernkragramp meer as 30 jaar gelede.

Altesaam 274 brandbestryders, drie vliegtuie en drie helikopters was Woensdag nog op die toneel.

Die staatsnooddiens het Dinsdag gesê brandbestryders kon die gebied van die brand binne die uitsluitingsone van 25 hektaar tot 10 hektaar verminder, maar sterk winde het veroorsaak dat die brand verder versprei. Die federale diens kon nie Woensdag die grootte van die brand bevestig nie.

Omgewingskenners is besorg dat die brand weer radioaktiewe as in die grond kan aanblaas. Die staatsnooddiens het egter gesê bestralingsvlakke blyk binne die aanvaarde norm te wees.

Egor Firsov, senior omgewingsbeampte, het gesê bestraling in die gebied is 16 keer hoër as normaal ná die brand oor die naweek uitgebreek het.

ʼn 27-jarige inwoner van ʼn klein dorpie naby die uitsluitingsone word daarvan verdink dat hy minstens een van die brande gestig het. Die man, wat tot vyf jaar tronkstraf opgelê kan word, het vermoedelik gras en rommel verbrand en kon, weens winderige toestande, nie die brand beheer nie, aldus ʼn verklaring van die polisie.

Die kernramp in 1986 by die Tsjernobil-kernkragaanleg, ongeveer 100 km noord van Kiëf, word as die ergste kernramp in die geskiedenis van die mensdom beskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anell

Goeie genade, dit terwyl ek hierdie week elke aand nog die storie volg van hoe die Kernkrag ontploffing gebeur het!! Hulle sê dis ‘n ware storie, maar mens glo dit amper eers wanneer jy dit ook hier op Maroela Media te siene kry!!