Tsjernobil-kernramp 30 jaar gelede gedenk

Foto: VOA Markosian/Wikipedia

Foto: VOA Markosian/Wikipedia

Op 26 April 1986 het ’n kragpiek tydens toetsing aanleiding gegee tot ’n ontploffing in eenheid vier van die Tsjernobil-kernkragaanleg in die destydse USSR.

Verskeie brande het gevolg en ’n gebied groter as New York (sowat 150 000 km2) is só erg besoedel dat agt miljoen mense in Oekraïne, Wit-Rusland en Rusland hervestig moes word. Meer as 50 mense wat by die reaktor gewerk het asook etlike reddingswerkers is dood.

Daar word gemeen dat vyf miljoen mense steeds in gebiede woon wat as besoedel beskou word. Kenners meen dit sal nog minstens 20 000 jaar neem om die omgewing van die aanleg weer bewoonbaar te kry.

Die skoonmaak van die toneel duur voort, maar dit sal verskeie geslagte neem om al die radioaktiewe materiaal te verwyder. Verskeie mense het egter na hul wonings so na as enkele kilometer van die aanleg teruggekeer. Boonop blyk dit dat die natuurlewe, waar onder wild, in die gebied floreer.

Later vanjaar word ’n enorme skild oor die aanleg getrek wat verdere radio-aktiewe besoedeling sal verhoed terwyl opruiming daaronder sal voortgaan.

The AtlanticChristian Science Monitor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CHRISTA ·

Kan iemand met die nodige kennis my asseblief inlig: Hoe kan die natuurlewe, insluitende die wild, floreer in ‘n gebied wat so deur radioaktiewe besoedeling deurgeloop het?

Paul ·

Omdat die besoedeling glad nie so erg is soos wat die “scaremongers” oor kernkrag voorgee nie.
Verder wel ook omdat plantlewe nie so erg (sigbaar) geraak word deur radioaktiewe besoedeling soos dierlewe nie, en ook omdat diere oor die algemeen korter lewensduur het as mense, so hulle neem nie so baie radioaktiwiteit op deur hul leeftye nie.

Verder, net ter inligting, die ontwerp van reaktor by Tsjernobil was ‘n baie, baie onveilige soort, omdat die VSSR dit wou kon gebruik om kernwapenmateriaal te kan vervaardig terwyl dit ook krag opwek. Daar was ook geen versterkte beskermingstruktuur bo-oor die reaktor nie. Geen moderne reaktor gebruik hierdie dom en onveilige ontwerp nie. By Koeberg, byvoorbeeld, kan die soort ongeluk wat by Tsjernobyl gebeur het, eenvoudig nie plaasvind nie. En selfs al sou iets anders ERG skeefloop by Koeberg, sal enige noemenswaardige radioaktiewe afval binne die beton-beskermingstrukture bly.

Paul ·

Ek kan ook byvoeg, anders as wat mense dink oor die gebied en die aanleg, is dit nie ‘n totale dood-sone nie. Die aanleg het vier kernreaktors gehad, en nadat die ongeluk by Reaktor 4 plaasgevind het, het die ander drie reaktors aangehou krag opwek, met Reaktor 2 wat in 1991 afgeskakel is, Reaktor 1 in 1996 en Reaktor 3 eers in 2000. Vir veertien jaar ná die ongeluk by Reaktor 4 het daar nog mense gewoonweg gewerk by die ander dele van die aanleg.

Die sogenaamde “Exclusion Zone” rondom die aanleg is slegs 2 600 vierkante kilometer. Dis misleidend om voor te gee dat 150 000 vierkante kilometer vreeslik erg besoedel is. Die area wat aanvanklik erg genoeg besoedel was om mense (tydelik) te moes hervestig, was nader aan 19 000 vierkante kilometer.

John ·

Sou dit nie wonderlik wees as ons leiers kennis neem van bogenoemde gebeure nie? Sulke rampe gebeur nie net altyd ‘elders’ nie. Maar soos dit is, verblind ons grootheidswaan en liefde vir mammon altyd ons insig in gevare. Duitsland, die’ eerstewereldland, faseer alle atoomkragstasies uit, maar ons besluit om maatskappye in die buiteland wat juis weens die afskaling finansieel sukkel, uit te help. Miljarde vir ‘n swaard oor die kop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.