Tsoenami-dodetal styg steeds; waarskuwingvlak verhoog

Die lugfoto van die Anak Krakatau-vulkaan is Sondag geneem. Foto: (Nurul Hidayat, Bisnis Indonesia via AP)

Die Indonesiese owerhede het die uitsluitingsone rondom die vulkaaneiland wat die naweek ʼn tsoenami veroorsaak het verder uitgebrei.

Die land se vulkaniese agentskap het gesê die Anak Krakatau-vulkaan se waarskuwingsvlak is tot die naashoogste vlak verhoog en die uitsluitingsone meer as verdubbel tot ʼn 5 km-radius.

Die uitbarsting van die vulkaan Saterdagaand het veroorsaak dat ʼn gedeelte van die eiland in die see gestort en reusegolwe veroorsaak het.

Die regering het inwoners in die Soenda-seestraat tussen die eilande Java en Sumatra gewaarsku om minstens ʼn kilometer weg van die kuslyne af te bly weens die risiko van nog ʼn tsoenami.

Die vulkaniese agentskap monitor intussen Anak Krakatau se uitbarstings aangesien stormagtige weer en hoë golwe steeds voorkom.

Foto: AP Photo/Achmad Ibrahim

Die tsoenami ná Saterdagaand se uitbarsting het sonder waarskuwing getref aangesien daar nie ʼn groot aardbewing vooraf was nie.

Die dodetal het intussen tot meer as 430 gestyg met meer as 1 400 mense wat beseer is en minstens 159 mense wat nog vermis word. Meer as 21 000 mense is ontwortel.

Anak Krakatau het in die vroeë 20ste eeu gevorm ná die rampspoedige uitbarsting van Krakatoa in 1883 wat die lewe van meer as 30 000 mense geëis het. Anak Krakatau het al sedert Junie verskeie uitbarstings gehad en daar was 24 minute voor die tsoenami getref het weer ʼn uitbarsting.

ʼn Tsoenami op 26 Desember 2004 het die lewe van meer as 220 000 mense in 13 lande geëis ná ʼn aardbewing van 9,1 in die Indiese Oseaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.