Tsoenami kom dalk ná massiewe aardbewing in VSA

’n Tsoenami-waarskuwing is uitgereik ná ’n massiewe aardbewing die Alaska-skiereiland Woensdag getref het. (Foto: Twitter / Matthew Cappucci)

Die Amerikaanse geologiese opname-agentskap (USGS) het ’n tsoenami-waarskuwing uitgereik ná ’n massiewe aardbewing die Alaska-skiereiland Woensdag getref het. Die aardbewing, met ’n magnitude van 8,2 het omstreeks 22:15 (06:15 Donderdagoggend in Afrika) getref.

Dié skudding het sowat 90 km suidoos van die klein dorpie Perryville, sowat 800 km van die stad Anchorage in Alaska, plaasgevind.

Die USGS het die tsoenami-waarskuwing vir die suide van Alaska, die Alaska-skiereiland én Hawaii uitgereik.

“Gevaarlike tsoenami-golwe weens dié aardbewing is binne die volgende drie ure moontlik,” het die USGS kort na die voorval in ’n verklaring gewaarsku.

Vyf naskokke, waarvan die grootste een 6,2 op die momentmagnitudeskaal geregistreer het, het ook binne 90 minute ná die aardbewing voorgekom.

Luidens berigte het waarskuwingsirenes deur die eiland Kodiak, wat ’n bevolking van sowat 6000 mense het, weerklink en kan daar in video’s op sosiale media gesien word hoe inwoners van dié eiland vlug.

 

 

 

Alaska vorm deel van die sogenaamde Ring van Vuur wat in die Stille Oseaan voorkom.

Alaska is in 1964 deur ’n reuse-aardbewing van 9,2 getref – die sterktste een wat nóg in Noord-Amerika se geskiedenis opgeteken is.

Dít het die stad Anchorage verpletter en tot ’n tsoenami aan die Golf van Alaska, die VSA se Weskus en Hawaii gelei. Dié skudding en tsoenami het meer as 250 lewens geëis.

’n Aardbewing van 7,5 het Alaska ook in Oktober verlede jaar getref, met tsoenami-golwe wat aan dié staat se Suidkus voorgekom het. Geen sterftes is aangemeld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elinette ·

Ek wonder: waarheen vlug jy as jy op ‘n eiland (Kodiak) woon?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.