Tsoenami-waarskuwing uitgereik ná aardbewing

Mense sit gereed by ʼn ontruimingsentrum in Kodiak in Alaska. Foto: Twitter via @connor_reus

ʼn Tsoenami-waarskuwing is vir die kusgebied van Alaska en Brits-Columbië in Kanada uitgereik nadat ʼn aardbewing van 7,9 die Golf van Alaska vroeg Dinsdagoggend getref het.

Daar is nie onmiddellik enige beserings of skade aangemeld nie.

Volgens die Amerikaanse sentrum vir geologiese opnames (USGS) was die aardbewing se episentrum 280 km suidoos van Kodiak in Alaska op ʼn oppervlakkige diepte van 10 km.

Die tsoenami-waarskuwing is van toepassing op die Aleoete, ʼn eilandgroep op die westelike punt van Alaska, en die hele kuslyn van Brits-Columbië. ʼn Laervlak-tsoenami-kennisgewing is ook uitgereik vir die westelike kus van die VSA, asook Hawaii in die Stille Oseaan.

Enige moontlik skadelike golwe wat deur die aardbewing veroorsaak word, sal etlike ure neem om die kus van die VSA en Kanada te bereik.

Volgens BBC het owerhede in Anchorage in Alaska inwoners aan die kus gewaarsku dat daar ʼn “uitsonderlike bedreiging vir lewens en eiendom is”. Die publiek is gemaan om skuiling op hoër grondvlak te soek en inwoners in verskeie plekke rondom die Golf van Alaska is gevra om te ontruim. Volgens BBC sluit dit Homer, Seward, Kodiak, Sitka en Unalaska in.

Polisiebeamptes van Kodiak het ook gemeld dat daar by die hawe gesien kon word hoe die water terugtrek. Volgens berigte het talle van Kodiak se inwoners in die middel van die nag hul huise verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.