Tsoenami-waarskuwings ná groot aardbewings opgehef

‘n Verlate strand in Orewa, noord van Auckland, nadat derduisende inwoners van Nieu-Seeland se kusgebiede ontruim is. (Foto: DAVID ROWLAND/AFP)

Tsoenami-waarskuwings is vir verskeie eilande in die suidelike Stille Oseaan opgehef en derduisende mense kon na hul huise terugkeer ná drie groot aardbewings.

Aardbewings van 7,3, 7,4 en 8,1 het vroeg Vrydagoggend kort na mekaar naby Nieu-Seeland se afgeleë Kermadec-eilande voorgekom en dit is gevolg deur tientalle kragtige naskokke en ʼn rits tsoenami-waarskuwings in die Stille Oseaan.

Die grootste aardbewing het sowat 1 000 km van Nieu-Seeland se kus voorgekom. Dit is deur twee geweldige kragtige seismiese skokke voorafgegaan.

Duisende mense moes hul huise ontruim en na hoërliggende gebiede beweeg met golwe van tot drie meter wat in Nieu-Kaledonië en Vanuatu voorspel is, met state en gebiede, van Nieu-Seeland tot Peru en Rusland tot Antarktika, wat op hoë gereedheidsgrondslag geplaas is. Daar was geen onmiddellike berigte van groot skade nie.

Die Stille Oseaan se tsoenami-waarskuwingsentrum het gesê die bedreiging is nog nie heeltemal verby nie en dat dele van Suid- en Sentraal-Amerika steeds matige tsoenami-golwe kan verwag. Baie van die tsoenami-waarskuwings is egter reeds deur plaaslike owerhede opgehef.

Die owerhede in Australië, Nieu-Kaledonië, Nieu-Seeland, Vanuatu en Frans-Polinesië is onder diegene wat hul aanvanklike waarskuwings teruggetrek of afgradeer het.

Jacinda Ardern, premier van Nieu-Seeland, het haar verligting uitgespreek. “Dit is moeilik om nie te voel dat ons land ʼn bietjie teëspoed beleef as daar ʼn aardbewing, ʼn tsoenami-waarskuwing en ʼn pandemie is om op een dag te hanteer nie,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cecilia ·

Daar sy dis hkm die dolfyne gestrand het. Hul het d gevaar aangevoel. Diere is d beste en slimste wat ons Vader se werke verstaan. Ons mense kan leer by n dier om God te vertrou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.