Tunisië-aanval: SA vrou gewond

Duisende mense het Woensdagaand in die strate van Tunis byeengekom na die aanval. Foto: Facebook

Duisende mense het Woensdagaand in die strate van Tunis byeengekom na die aanval. Foto: Facebook

ʼn Suid-Afrikaanse vrou is gewond in die terreuraanval op ’n museum in Tunis, die hoofstad van Tunisië, waartydens 21 mense dood is.

MSC Cruises het Donderdag gesê die Suid-Afrikaanse vrou is een van die 3 714 gaste en 1 267 bemanningslede aan boord die MSC Splendida wat in die hawe by La Goulette in Tunis vasgemeer is. “Van ons gaste, sowel as dié van ʼn ander passasierskip, was tydens die aanval by die museum,” het MSC Cruises gesê.

Volgens MSC Cruises is daar 78 Suid-Afrikaners aan boord van die MSC Splendida, maar slegs die een vrou is beseer. Sy is na ‘n hospitaal geneem waar sy behandeling ontvang. Die vrou se man is aan haar sy en MSC het ‘n krisisspan op die been gebring om hulp te verleen.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het Donderdag gesê hy is in kontak met die ambassade in Tunisië om vas te stel of enige Suid-Afrikaners in die aanval beseer of dood is.

Volgens Habib Essid, eerste minister van Tunisië, is 17 van die oorledenes toeriste. Twee Tunisiërs en twee van die vermeende aanvallers is glo ook in die aanval dood. Essid het gesê vyf van die oorledenes was van Japan, vier van Italië, twee van Colombië en twee van Spanje. ʼn Australiër, ʼn Pool en ʼn Franse burger is ook onder die oorledenes. Volgens Essid is 13 Italianers, sewe Franse burgers, vier Japanners, twee Suid-Afrikaners en ʼn Pool onder die beseerdes.

Volgens die New York Times is daar aanvanklik berig dat die aanvallers 10 mense gyselaar geneem en nege mense doodgeskiet het. Die land se veiligheidsmagte het sowat vier uur later weer beheer van die museum geneem en daar is aangekondig dat die dodetal meer as verdubbel het. Twee van die aanvallers is deur die veiligheidsmagte doodgeskiet. Volgens berigte was daar vermoedelik vier tot vyf aanvallers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.