Tupperware dalk binnekort iets van die verlede

(Foto: Tupperware)

Tupperware, vervaardiger van menigte huishoudings se gunstelingbergingshouers, is in diep finansiële moeilik en gaan ná 77 jaar moontlik sy deure moet sluit indien hy nie vinnig bykomende finansiering bekom nie.

Die Amerikaanse maatskappy sê daar bestaan “wesenlike twyfel oor sy vermoë om voort te gaan” nadat sy aandele Maandag met byna 50% getuimel het. Die aandele het Dinsdag met ’n skrale 5,6% herstel.

Tupperware loop boonop die gevaar om van die New Yorkse aandelebeurs gedenoteer te word omdat hy nog nie sy jaarverslag ingedien het nie. Die maatskappy word intussen genoop om sy lenings te heronderhandel nadat hy sy leningsooreenkomste reeds drie keer sedert Augustus verlede jaar gewysig het.

Tupperware sê hy sukkel met hoër rentekoste op sy lenings, terwyl hy probeer om die besigheid om te keer.

Goue oue

(Foto: Tupperware)

Die Tupperware-handelsmerk het in die 1950’s en 1960’s groot bekendheid – en gewildheid – verwerf toe mense wêreldwyd Tupper-partytjies by hul huise gehou het waartydens die plastiekhouers verkoop is.

Dekades later het Tupperware steeds regstreekse verkoopsmag, wat beteken hy verdien ʼn persentasie van elke Tupper-produk wat verkoop word. Die verkoopsmag het egter in 2022 met 18% gekrimp vergeleke met die vorige jaar.

Die maatskappy, wat ook tydens die Covid-19-pandemie swaar getref is, het nou noodgedwonge sy produkte in die Amerikaanse kleinhandelketting Target begin verkoop in ʼn poging om jonger kopers sowel as ander kleinhandelaars wêreldwyd te lok.

Tupperware het ook reeds sy reeks uitgebrei na kookprodukte, wat insluit ʼn rooster wat in ʼn mikrogolf gebruik word.

Neil Saunders, besturende direkteur van kleinhandel by die konsultasiemaatskappy GlobalData, sê indien die maatskappy tien jaar gelede met vernuwing begin het, het Tupperware se lot dalk vandag anders daarna uitgesien.

Hy twyfel egter of daar enigiets is wat die maatskappy nog kan doen om hom uit die finansiële verknorsing te help.

“Tupperware het versuim om met die tyd te verander wat sy produkte en verspreiding betref,” sê Saunders.

Saunders sê dat die verkoop van Tupperware-produkte aan jonger klante – deur byvoorbeeld Tupper-partytjies – eenvoudig nie in hedendaagse tye werk nie. Die maatskappy se ouer klante het boonop reeds aanbeweeg na goedkoper én meer modieuse houers wat in winkels of aanlyn beskikbaar is.

Tupperware waarsku “dat hy dalk nie voldoende likiditeit in die nabye toekoms sal hê nie”.

Die sukkelende maatskappy werk nou saam met finansiële adviseurs in ’n poging om meer geld en beleggings te verseker. Die moontlikheid word ook ondersoek of die maatskappy van sy eiendom kan verkoop en poste kan besnoei om die deure oop te hou.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Johanna ·

Ek het Baie Tupperware maar dit het so duur geword DAT ek glad NIE meer loop NIE. Sal dit NIE eers mis nie

#sêmaarnet ·

Ek stem saam. Daar is goedkoper produkte daarbuite wat vir my goed genoeg werk.

Vexed ·

Ja, die pryse maak my ook LAM. Die dat ek ook NIE meer loop NIE

JvR ·

Ek onthou toe Tupperware nog kwaliteit was. Nou lyk en voel dit dieselfde as die ander plastiek ware. Dalk is dit die rede.

Treurwilger ·

Die Tupperware-partytjies was deel van die lewe, lastig, maar tog ook altyd lekker, die kere wat dit nie ontduik kon word nie. ;-)

Annelize ·

Tupperware is doodeenvoudig belaglik duur, ek vir nommer een kan dit nie meer bekostig nie, Gewone, goedkoper plastiekprodukte wat mens sommer by die “China shop” koop, werk net so goed.

Mariana ·

Stem saam net eenvoudig te duur. Alhoewel dit goeie produkte is, is dit nie bekostigbaar nie.

Koos 100 ·

Enige besigheid wat op sy louere rus en nie vernuwe nie, sal ondergaan. Jammer Tupperware, maar ek dink dat julle ondergang voor julle eie deur gelê moet word.

Annatjie ·

Dit hang ook baie af van die verkoopspersoon en hoe dit bemark word. Toe partytjies gehou is in die verlede was dit sommer ‘n lekker kuier van vriendinne bymekaar.

JohanR ·

Kan net dink dat onderklere partyjies Tupperware partytjies vervang het?

JvR ·

Victoria secret partytjies. Geen versnapperings. Emmer as jy ingaan.

SwartBees ·

Vandag is dit n tupper partytjie van n ander tipe plastiek.

isabelle ·

geen ware soos tupperware! dis kwaliteit en vlek nie soos baie ander bakke nie..meestal kan ook in die mikrogolf gebruik word…maar die prys is ongelukkig te duur en ek kan dus nie meer tupperware bekostig nie.

Patch ·

Tupperware het baie duur geword. Dis goeie kwaliteit maar nie sakpas nie. Mense koop goedkoper ware wat dieselfde doel dien en daarom lyk die finansies maar sleg vir Tupperware. Miskien moet hulle die items goedkoper maak dan sal besigheid weer optel
Ek gebruik nou nog twee houers wat my ma gebruik het toe ons kinders was.

JvR ·

Die twee houers wat jy van jou ma gekry het, is by verre beter as enige iets wat hul vandag verkoop. Ek het nou nog n rice cooker van die 80’s. Veertig jaar oud en werk perfek

Alida ·

Baie jongmense wil ook nie meer plastiekprodukte hê of gebruik nie. Hulle beskou dit as sleg vir die omgewing en in baie gevalle ook sleg vir die gesondheid. Veral my oudste seun laat glad nie plastiekbakke en houers in sy huis toe nie, en as hy moet kies tussen ‘n produk wat in ‘n plastiekbottel is teenoor een in ‘n glasbottel, kies hy altyd die glasbottel. Tupperware is by hulle ‘n groot NEE.

Racheltjie Debeer ·

Miskien moet Tupperware hul pryse aanpas om meer in lyn met “gewone” plastiek ware, dan sal hul dalk meer verkoop. Ek meen, dis belaglik om meer as R200 te betaal vir ‘n 1.5l water bottel. Mens koop sommer by die supermark ‘n 1.5l water en hergebruik die bottel.

TruthDealer ·

Hopeloos te duur. Hulle was te geldgierig met hul pryse. Ek het nooit Tupperware in my lewe gekoop nie so ek sal dit nie mis nie.

Wielspore ·

Ons het met Tupperware as kinders in die 70’s groot geword, my vrou het ook haar Tupperware en dit is haar trots en word mooi opgepas. Vir algemene gebruik koop ons ook maar die Made in China produkte, kwaliteit is nie so goed maar teen die goekoper prys kan dit meer gereeld vervang word. Elke kombuis verdien ‘n Tupperware produk.

Dahlia ·

Mense beweeg ook weg van plastiekware en koop eerder glasware met plastiekdeksels.

Nettie ·

Baie waar! Ek het 4 glasbakke waarin ek in die oond kos bak. Na ete as die oorskiet afgekoel het, sit ek net die plastiekdeksel op en sit dit in die yskas. Baie gesonder en boonop makliker ook!

Impact ·

In with the new out with the old – dit is alles deel van hulle cleasing process sedert 2019

Feather ·

Tupperware was altyd baie goeie kwaliteit wat lank gehou het en nie sommer stukkend gegaan het nie. Dit is nou belaglik duur en die kwaliteit is net soos al die ander plastiek goed wat jy sommer by China Town koop teen helfde of minder as helfde van die prys. So ek persoonlik sal dit glad nie mis ie.

Nettie ·

Dis baie jammer. Ongelukkig kon ek dit nog nooit self bekostig nie. Maar dit bly hartseer wanneer iets wat so lankal deel was van ons lewens, nou weg gaan wees.

SwartBees ·

My ma het so baie tupperware dat sy kan qualify as n lang termyn agent. Van dit is selfs ouer as ek.

bolletjie blom ·

Tupperware is ook nie meer dieselfde nie en dit is hopeloos te duur. Koop nou maar redelike goeie plastiekware by ander plekke. Jy betaal nou maar vir Tupper se naam

Lillian ·

Groot geword met Tupperware, en ek en my vriendinne het lekker “Tupperware parties” gehou, maar self koop ek dit nie meer nie, die kwaliteit is nie wat dit was nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.