Owerhede in Turkye het beslag gelê op ʼn voorraad kokaïen ter waarde van ongeveer €15 miljoen (meer as R234 miljoen).
Dit is een van die grootste dwelmvondse in die geskiedenis van die land, het die nuusagentskap DHA Woensdag berig.
Twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat die polisie byna 252 kg kokaïen in vraghouers op ʼn skip in die hawestad Iskenderun gevind het. Die vrag was geregistreer as meubels, aldus die berig.
Die skip het uit Brasilië vertrek en het vroeër ook in Egipte aangegaan voor dit in Iskenderun aangekom het.