TV-aanbieder gevonnis vir vrou se moord

hof-hamer

Argieffoto.

ʼn Man wat in Indië bekendheid verwerf het as die aanbieder van ʼn gewilde misdaadprogram is Woensdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op sy vrou 17 jaar gelede.

Suhaib Ilyasi was ook die regisseur en die vervaardiger van die program India’s Most Wanted. Dié program het gehandel oor voortvlugtige misdadigers en was uiters gewild in die laat 1990’s.

Anju, Ilyasi se vrou, is op 11 Januarie 2000 met steekwonde aangetref.

Haar dood is aanvanklik as selfmoord bestempel maar Ilyasi is drie maande later in hegtenis geneem ná Anju se familie aanklagte van teistering oor ʼn bruidskat en moord teen hom ingebring het.

Ilyasi is drie maande daarna op borgtog vrygelaat en het sedertdien ʼn tydskrif, Bureaucracy Today, uitgebring.

ʼn Hof in Delhi het Ilyasi Saterdag skuldig bevind aan die moord op Anju. Manu Sharma, Ilyasi se regsverteenwoordiger, het gesê dat hulle teen die uitspraak en die vonnis sal appelleer. “My kliënt is onskuldig,” het Sharma gesê.

In Indië kan uitsprake in hooggeregshowe betwis word.

Indië se regstelsel is berug vir die traagheid daarvan. Die regstelsel word vertraag deur ʼn tekort aan regters, ʼn neiging van prokureurs om gereeld vir uitstel te vra en swak infrastruktuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PietP ·

In Suid Afrika kan uitsprake in die Hooggeregshowe ook betwis word en so ook reg deur die hele wereld. Mens noem dit Appelleer !!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.