TV-program lei tot nuwe ondersoek 26 jaar ná veerbootramp

‘n Wrakstuk van die MS Estonia is sowat twee maande na dit gesink het uit die see gehaal. Argieffoto: Jaakko Avikainen/Lehtikuva /AFP

Swede wil ʼn verbod op ondersoeke van die wrak van die MS Estonia laat ophef ten einde weer ondersoek in te stel na een van die ergste maritieme rampe van die 20ste eeu.

Die Estlandse veerboot het in 1994 in die Baltiese See gesink en tot die dood van 852 mense gelei.

Die Sweedse ongeluksondersoekowerheid het ʼn versoek gerig om ʼn wet wat duiktogte na die skeepswrak verbied te wysig sodat die wrak weer ondersoek kan word nadat ʼn dokumentêre TV-program bewys gelewer het van ʼn voorheen onbekende gat in die romp.

Die amptelike ondersoek na die ramp het in 1997 tot die gevolgtrekking gelei dat die ramp veroorsaak is deur die laaibrug aan die boeg van die skip wat in rowwe see oopgeruk is. Dit het water in die voertuigdek laat instroom en die skip het gevolglik gesink.

Oorlewendes en familielede van die slagoffers veg al vir langer as twee dekades vir ʼn vollediger ondersoek met sommige wat beweer dat die boot volgens die bevinding van die aanvanklike ondersoek nie werklik só vinnig sou kon sink nie.

Die boot, wat van Tallinn na Stockholm gevaar het, het in die vroeë oggendure van 28 September 1994 binne ʼn uur gesink met net 137 mense wat oorleef het.

Dit was die ergste skeepsramp in vredestyd in Europese waters, en die tweede ergste waarby ʼn Europese skip betrokke was nadat die Titanic in 1912 in die Noord-Atlantiese Oseaan gesink het.

In die foto van November 1994 gooi mense blomme in die see tydens ‘n roudiens vir die slagoffers van die MS Estonia-veerbootramp. Argieffoto: Heikki Saukkomaa/Lehtikuva/AFP

Nadat daar besluit is om nóg die wrak nóg die liggame te verwyder, het die regerings van Swede, Estland en Finland in 1995 ʼn verdrag onderteken waarin hulle ooreengekom het om die gebied waar die wrak geleë is as ʼn laaste rusplek aan te wys en dit onwettig vir sy burgers te maak om die terrein te versteur deur daar te duik.

“Ons het geen planne om die wet te herroep nie, maar ons sal kyk hoe die wet aangepas moet word om ondersoeke uit te voer,” het Mikael Damberg, Swede se minister van binnelandse sake, gesê.

Die dokumentêr wat in September uitgesaai is, het beeldmateriaal gewys wat met afstandbeheerde onderwatertoerusting verkry is van ʼn gat van sowat vier meter in die boot se romp. Twee van die filmvervaardigers word sedertdien daarvan aangekla dat hulle die laaste rusplek versteur het en kan tot twee jaar tronkstraf opgelê word.

Kundiges het aan die filmmakers gesê dat slegs ʼn massiewe eksterne mag sterk genoeg sou wees om die skeur te veroorsaak, wat baie vrae laat ontstaan ​​het oor wat regtig gebeur het.

“Ek glo die waarheid is iets anders as wat mense tot nou toe vertel is,” het Carl Eric Reintamm, ʼn oorlewende, in die program gesê.

Van die oorlewendes beweer dat hulle ʼn harde slag gehoor het, en Reintamm het gesê dat hy ʼn groot wit voorwerp in die water langs die veerboot gesien het. Daar is verskeie teorieë oor wat moontlik kon gebeur het. Dit sluit in ʼn botsing met ʼn ander vaartuig, óf ʼn militêre skip óf ʼn duikboot, asook dat georganiseerde misdaadbendes betrokke was of dat daar ʼn ontploffing op die boot was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.