Twee Britse burgers ook vergiftig soos spioen

Foto: AP Photo/Matt Dunham

Twee Britse burgers is met dieselfde chemiese middel vergiftig as waarmee ’n Russiese spioen en sy dogter in Maart vanjaar vergiftig is.

Charlie Rowley (45) en Dawn Sturgess (44) is Saterdag bewusteloos in hul huis gevind in Amesbury, sowat 13 km van Salisbury waar Sergei Skripal (67), ’n voormalige Russiese spioen, en sy dogter, Joeilia (33), vroeër dié jaar vergiftig is.

“Ons kan bevestig dat die man en vrou blootgestel is aan die senumiddel Novichok, wat geïdentifiseer is as dieselfde senumiddel waaraan die Skripals blootgestel is,” het Neil Basu, assistentkommissaris van Londen se polisie en die mees senior teenterreurbeampte, aangekondig.

Die Britse owerhede jaag nou om te probeer uitvind hoe die paartjie aan die chemiese middel Novichok blootgestel is. Novichok is in die voormalige Sowjetunie vervaardig en is ’n lewensgevaarlike middel wat die senustelsel aanval.

Die paartjie is in ’n kritieke toestand in Engeland se Salisbury District-hospitaal waar Skripal en sy dogter ook behandel is. Basu het gesê dit is nog nie duidelik of die twee voorvalle met mekaar verband hou nie.

Basu het gesê dit is ook nog nie duidelik of die paartjie geteiken is nie, maar dat daar “niks in hul agtergrond is wat daarop dui nie”.

Foto: AP Photo/Matt Dunham

Die polisie het eers gedink die paartjie het moontlik besmette dwelms gebruik. Meer as 100 beamptes van die teenterreur-eenheid werk egter nou aan die saak. Theresa May, die Britse premier, se kantoor het gesê sy word op hoogte gehou van die verwikkelinge.

Skripal is daaraan skuldig bevind dat hy vir Brittanje gespioeneer het voor hy in 2010 na die Verenigde Koninkryk teruggekeer het as deel van ’n gevangene-uitruilprogram. Skripal en sy dogter is bewusteloos op ’n parkiebankie gevind en dokters was onseker oor wat hulle makeer.

Skripal en sy dogter was weke lank in ’n kritieke toestand in die hospitaal voor hulle ontslaan is en na ’n onbekende plek gestuur is vir hul eie beskerming. Dokters weet nog nie wat die langtermyninvloed op hul gesondheid gaan wees nie.

Brittanje het Rusland daarvan beskuldig dat hy die Skripals vergiftig het. Moskou het egter die bewering ten sterkste ontken. Die voorval het ’n diplomatieke krisis tussen Rusland en Brittanje veroorsaak met honderde diplomate wat uit albei lande geskop is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SVW ·

Julle dui verkeerdelik aan dat die eerste geval ‘n Russiese spioen was. Hy was van tevore ‘n Russiese spioen wat teen Rusland gedraai het en ‘n Britse spioen geword het. Hy is doodgemaak deur die Engelse regering as ‘n “false flag attack”. Waarom? Propeganda teen Rusland. Waarom? Want Rusland is deur die huidige leier (Putin) omgedraai na ‘n wonderlike land. Die hele storie was top-klas propeganda deur die “Mainstream Media”. Rusland is vandag nie wat hy destyds was nie. Hulle leier is een van die enigstes wat staan vir Christenskap in ‘n Christen land.

SVW ·

Daar is inelkgeval bewyse dat die Novichok agent deur die Engelse regering vervaardig is in die eerste geval. Doen julle navorsing reg. Anders breinspoel julle die afrikaner nes die res van die “Mainstream Media” & al julle “Christelike” waardes op Maroela Media val dan plat. Rusland het aangebied om deel te wees van die ondersoek in die eerste geval, die Engelse het enige & alle informasie van Rusland weerhou rakende die ondersoek? Hoekom? Want dit was ‘n “false flag” deur die Engelse. As die Engelse niks gehad het om weg te steek nie sou hul die detail van hul ondersoek aan Rusland bekendgemaak het. Hulle het nooit nie. Die eerste “false flag” geval het gelei tot 50 bombe op Syria as ‘n “straf” teenoor Rusland. Geen feitlike bewyse is eers getoon nie. Waarom? Theresa May se man het groot aandeel in die vervaardiging van Misiele. Een misiel kos 314 miljoen dollar. Die Novichok storie was propeganda om Rusland se goeie beeld te breek en as “straf” 50 misiele op Syria te gooi. Waarom Syria spesifiek? Want Rusland is die rede dat die wettige regering die oorlog gewen het. Die westerse lande wou die regering van Syria omver gooi met die oorlog wat hul begin het.

SVW ·

Ek dui verkeerdelik aan dat hy en sy dogter doodgemaak is. My fout. Steeds sal geen mens ‘n aanval oorleef van ‘n militere sterk agent nie. Inteendeel is ek verbaas dat daar nie nog mense in aanraking gekom het met die Novichok agent nie. Sodra die agent vrygelaat word dan word dit “airborne” en sodoende moes meer mense definitief in aanraking met die agent gekom het as dit regtig die geval was. Weereens; Niemand sal so iets oorleef nie. As jy in aanraking met die tipe agent kom is jy dood. dood. Wonderwerk dat die tweetjies van die eerste geval nog lewe, of hoe ?

SVW ·

Die Afrikaner moet vinnig begin besef wie die wereld (Ja, die wereld) beheer. Want dan, net dan sal Hy besef; Selfbeskikking is die enigste opsie!

John ·

Ja, mens moet maar voorsorg vir jou sokkerspannetjie tref wat by hook and by crook by die agterdeur ingeseil het en die rooi gesigte poeier wat laas die erg vergiftiges uit die dood laat herrys het. Noudat 007 nes Putin probeer lyk moet die patata-eiland seker ietsie doen om die Kakies te beredder. Elke besering op die veld sal seker nou agv Russiese spioene se onsigbare hand of daai ou met die staalgebit wees. Die kobras in Brittanje se pik… dwaas en scary! Natuurlik moet die Trump-Putin-onderhandelinge verongeluk word… Onthou daar is WO3 wat wag. Jippie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.