Twee dood in Sydney-gyselaarsdrama

Sydney-gyselaarsdrama op 15 Desember 2014 Foto: Sky News

Sydney-gyselaarsdrama op 15 Desember 2014 Foto: Sky News

Die polisie in New South Wales in Sydney, Australië, het omstreeks 17:30 (Suid-Afrikaanse tyd) bevestig dat die gyselaarsdrama by ʼn Lindt-kafee beëindig is.

Swaargewapende polisiebeamptes het die sjokoladekafee bestorm waar ʼn terroris persone 16 uur lank gyselaar gehou het.

ʼn Beampte in ʼn bomverwyderingspak en ʼn bomverwyderingsrobot het in die kafee in beweeg net nadat die beamptes die gebou bestorm en die beseerde gyselaars van die perseel verwyder het.

Sky News berig gerugte doen die ronde dat twee persone, waaronder die skieter, glo dood is. Sky berig verder minstens vier van die gyselaars is beseer, waarvan drie moontlik kritiek beseer is. Hul toestand is onbekend. ʼn Polisiebeampte is ook op die toneel beseer.

Die skieter is intussen uitgeken as Haron Monis, ʼn 49-jarige vlugteling van Iran. Hy is glo op borgtog vrygelaat nadat hy in die hof verskyn het op aanklagte van seksuele oortredings. Sky News berig verder hy is ook in Australië berug daarvoor dat hy beledigende briewe stuur aan familielede van soldate wat in Afghanistan gesterf het.

Klik hier om vorige stories oor die Sydney-gyselaarsdrama te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SNEL ·

Wat ek gehoor het op die nuus is die skieter dood, die eienaar van die winkel en n vrou van 36 aan n hartaanval oppad hospitaal toe. Voel jammer vir almal wat daar in die situasie was, so gehoop geen een sal hulle lewe verloor nie (ek praat nie van die terroris nie), baie hartseer en onnodige situasie.

pop ·

Siestog, dis onbeskryflik hartseer. Jy voorsien nie dat jou besoek aan n kafee dalk jou dood kan beteken nie.

Nico ·

Die ergste is, die man is ‘n vlugteling van Iran. Daarmee het hy aangedui dat hy nie meer kans sien om in die Moslem land – Iran- te woon nie. En Australië was goedhartig genoeg om hom toe te laat in hulle land. En nou? Nou skielik is die Moslem lande so wonderlik. Hoekom het hy dan nie daar gebly nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.