Twee mense is dood en nog een beseer nadat ’n bejaarde man sewe verdiepings ver by ’n konsertsaal in Swede geval en op twee konsertgangers beland het.
Die voorval het Dinsdagaand kort voor ’n huldeblyk-konsert van die Sweedse popgroep Abba by ’n konsertsaal in die stad Uppsala naby Stockholm plaasgevind. Die man wat geval het, was 80 jaar oud.
Ongeveer 1 000 mense het by die Uppsala Konsert & Kongress-konsertsaal byeengekom vir ’n huldeblyk-konsert aan die twee Abba-legendes Bjorn Ulvaeus en Benny Andersson.
Die voorval het voor 19:00 (Sweedse tyd) plaasgevind terwyl konsertgangers nog by die konsertsaal opgedaag het. Die konsert sou omstreeks 19:30 begin het, maar is eindelik gekanselleer weens die voorval.
Magnus Jansson Klarin, woordvoerder van die polisie, het aan AFP gesê polisiebeamptes is na die konsertsaal ontbied nadat “iemand van ’n hoë hoogte binne die konsertsaal gespring óf geval het”.
Die konsertsaal het ’n oop ruimte in die voorportaal en die bejaarde man het van die sewende verdieping geval en twee ander mense getref.
Een van die konsertgangers, ’n man in sy 60’s, is tydens die voorval dood terwyl ’n vrou in haar 60’s beserings opgedoen het.
Die polisie het met hul aankoms op die toneel die voorportaal afgesper en ooggetuies ondervra voordat al die konsertgangers huis toe gestuur is.
Die polisie het intussen gesê daar is in dié stadium geen rede om te vermoed dat ’n misdaad gepleeg is nie.
Tragies