Twee dood toe motor op Kanadese grens ontplof

Die toneel by die Great Rainbow Bridge-grensoorgang. (Foto: Twitter)

Twee mense is Woensdagaand (Suid-Afrikaanse tyd) dood en die grens tussen die VSA en Kanada tydelik gesluit nadat ’n motor op die vooraand van Dankseggingsdag teen ’n versperring op die grens gebots en ontplof het.

ʼn Amerikaanse grensbeampte is ook in die proses beseer.

Ooggetuies vertel dat die motor teen ’n hoë spoed teen die kontrolepuntversperring vasgejaag het voor dit in ’n vuurbal ontplof het.

Waarskuwings is kort daarna uitgereik uit vrees dat die voorval moontlik terreur-verwant kon wees.

Die plaaslike FBI se veldkantoor kan egter nou bevestig dat die voorval nie met terrorisme verbind word nie. ’n Voorlopige ondersoek het onthul dat geen plofbare materiaal op die toneel gevind is nie.

Volgens Kathy Hochul, goewerneur van New York, het die ontploffing by die Great Rainbow Bridge-grensoorgang naby die Niagara-waterval, sowat 640 kilometer noordwes van New York City, plaasgevind. Die voorval het ernstige ontwrigting veroorsaak op een van die besigste reisdae van die jaar – die vooraand van Dankseggingsdag (Thanksgiving) in die VSA.

Die toneel by die Great Rainbow Bridge-grensoorgang. (Foto: Twitter)

Rainbow Bridge, een van die besigste grensoorgange tussen Kanada en die VSA, het 16 verkeersbane en is gewoonlik 24 uur per dag oop.

Stukke van die motorwrak het ná die voorval oor 14 van dié bane verstrooi gelê.

Drie ander nabygeleë grensoorgange is in die nasleep van die voorval gesluit, maar is sedertdien weer oopgestel, aldus die Amerikaanse doeane en grensbeskerming.

Die identiteit van die twee slagoffers wat in die voorval omgekom het, is in die stadium nog onbekend. Luidens berigte is die slagoffers ’n getroude paartjie met die man agter die stuur en sy vrou in die passasiersitplek.

Hochul sê die motor is moontlik van die deelstaat New York.

“Ons het hierdie motor na die grens sien aankom en dit het gevlieg – meer as 100 myl per uur (sowat 160 km/h),” het Mike Guenther, ʼn Kanadees op besoek aan die VSA, aan CBS News gesê.

Volgens Guenther het die motor uitgeswaai voordat dit die heining getref en deur die lug getrek het.

“Dit het in die lug opgegaan en ons het net die vuurbal gesien. Dit is al wat ons kon sien. Alles was in rook gehul.”

Die Kanadese premier, Justin Trudeau, het die voorval gisteraand, kort nadat dit gebeur het, aan die parlement as ’n “baie ernstige situasie” beskryf.

Dominic LeBlanc, Kanada se minister van openbare veiligheid, het gesê dit is altyd ’n bron van kommer vir die Amerikaanse en Kanadese owerhede wanneer infrastruktuur soos ʼn grensoorgang “deur hierdie soort gewelddadige omstandighede getref word”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

madels ·

Ek glo dit nie! Hulle probeer mense nou paai dat almal nou nie in paniek gaan nie, hoekom sal iemand VERSNEL as hulle weet hulle moet stop??? Klink baie verdag

Patch ·

Ai tog! As iets ontplof of brand in Amerika word dit dadelik aan terrorisme toegeskryf.
Hierdie kon net sowel ‘n bestuurder gewees het wat ‘n hartaanval of iets gekry het en sy voet het hard op die petrolpedaal gedruk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.