Twee gorillas by Amerikaanse dieretuin het Covid-19

‘n Argieffoto van gorillas in die San Diego-dieretuin in die VSA. (Foto: Mark Ralston/AFP)

Minstens twee gorillas by ʼn dieretuin in San Diego, Kalifornië, het positief vir die nuwe koronavirus getoets – die eerste bekende geval van natuurlike oordrag na dié groot ape, het amptenare gesê.

Twee primate het verlede week begin hoes en het sedertdien positief vir Covid-19 getoets, terwyl ʼn derde simptome begin toon, het goew. Gavin Newsom gesê.

Die diere het die virus vermoedelik by ʼn asimptomatiese dieretuinwerker opgedoen, hoewel dit nog nie bevestig is nie.

“Benewens ʼn verstopte neus en ʼn hoes vaar die gorillas goed,” het die wêreldbekende dieretuin se uitvoerende hoof, Lisa Peterson, gesê.

“Die trop is saam in kwarantyn en eet en drink. Ons hoop dat hulle ten volle sal herstel.”

Gorillas se DNS stem 98% ooreen met dié van mense en navorsing het bevind dat sommige niemenslike primate vatbaar vir Covid-19-infeksie is.

Dit is nog nie bekend of die gorillas ʼn ernstige reaksie op die siekte gaan hê wat wêreldwyd reeds sowat 1,9 miljoen menselewens geëis het nie en of ander gorillas in die trop ook die siekte opgedoen het nie.

Die gedeelte van die dieretuin waar die gorillas gehou word, is sedert Desember vir besoekers gesluit terwyl Covid-19-gevalle in die suide van Kalifornië aanhou styg het.

Die dieretuin sê daar word van werkers verwag om persoonlike beskermingsdrag soos maskers te dra wanneer hulle naby die gorillas is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Sjimpansees en bonobos deel 99% van mens DNA, en gorillas 98%, soe nie verbaas dat Covid-19 van dier gekom het nie, oorgegaan het na mens, en nou begin verskyn in ander diere. Die wereld is diep in die moeilikheid as ons begin om Covid-19 van mens EN dier begin vang. Gaan al die diere in die wereld van kant moet gemaak word, om die mens te spaar?

JohanR ·

Kom dat ek julle inspuit…..dit sal goed vir julle wees….he he!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.