Twee groot storms op pad na VSA

‘n Man koop Sondag brandstof vir sy kragopwekker in Port Sulphur, Louisiana. (Foto: AP Photo/Gerald Herbert)

Talle mense is reeds uit die suide van die VSA ontruim te midde van twee storms wat die land binnekort gaan tref. Dít nadat hierdie einste twee storms reeds verwoesting in Haïti, Kuba en die Dominikaanse Republiek gesaai het.

BBC berig orkaan Marco sal na verwagting Maandag die Amerikaanse deelstaat Louisiana bereik waarna tropiese storm Laura na verwagting Donderdag die deelstaat Texas sal tref.

Weervoorspellers waarsku egter dat Laura moontlik ooswaarts kan swaai en Louisiana direk ná orkaan Marco kan tref, wat sal beteken dat dié deelstaat die eerste in die geskiedenis sal wees wat deur twee orkane reg na mekaar getref word.

Mense staan Sondag in ‘n winkelry in New Orleans om benodigdhede aan te koop voor die storms tref. (Foto: AP Photo/Gerald Herbert)

Daar word verwag dat orkaan Laura teen Woensdag selfs sterker as nou sal wees.

“In die moderne meteorologiese geskiedenis … was daar nog nooit ʼn geval waar twee orkane binne ’n tydperk van 48 uur binne kilometers van mekaar tref nie,” het Benjamin Schott, meteoroloog van die Nasionale Weerdiens, gesê, berig CNN.

Die Amerikaanse pres. Donald Trump het nou ’n rampverklaring vir Louisiana uitgereik, terwyl die Amerikaanse kuswag ’n waarskuwing vir die hawe van New Orleans uitgereik het.

Mense loop Sondag in ‘n nat Port-au-Prince, Haiti. (Foto: AP Photo/Dieu Nalio Chery)

Die waarskuwings volg kort nadat ʼn soortgelyke verklaring Saterdag in Puerto Rico uitgereik is. Swaar reën sak steeds oor dié Karibiese eiland uit.

In die Dominikaanse Republiek is drie mense dood en meer as ʼn miljoen sonder elektrisiteit gelaat nadat Laura oor die naweek getref het.

Minstens nege mense het intussen in Haiti weens die storm omgekom, met die hoofstad Port-au-Prince wat tans onder vloede gebuk gaan.

In Kuba het talle mense noodgedwonge hul huise verlaat en na hoër gebiede gevlug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

Hoekom altyd ‘n vroue naam? (Kan net vroue soveel skade aanrig?)
Skuus julle, dis net ‘n grappie, maar regtig, is daar ‘n rede dat dit altyd net vroue name is?

Stofdonkie

meer as ‘n miljoen is sonder elektrisiteit gelaat? Dis nie so erg nie, dis hier by ons gewone “loadshedding”. As Trump sulke ernstige waarskuwings uitreik vir ‘n ou orkaantjie of twee wonder ek wat sal hy die anc noem? Die anc saai baie meer verwoesting as die twee orkane.