Twee verdagtes wat Sondag na bewering met hul motor in ’n skare karnavalgangers in België geploeg het, sal na verwagting Maandag voor ʼn regter verskyn. Die hof wag nog vir toksikologiese toetse om te bepaal of die twee onder die invloed was.
Volgens die staatsaanklaer, adv. Ignacio de la Serna, het die asemtoets van een van die verdagtes positief vir alkohol getoets, maar dié het glo nie die motor bestuur nie. Ondersoekers moet nog verifieer of dié verdagte nie plek met die bestuurder geruil het nadat hy die groep karnavalgangers raakgery het nie.
Die twee is Sondag na 05:00 (0400 GMT) in hegtenis geneem ná hulle glo met ʼn motor in die skare karnavalgangers by die karnaval by Strephy-Bracquegnies, ʼn distrik in La Louviere, geploeg het. Minstens ses mense is dood en 26 beseer, van wie tien om hul lewens in die hospitaal veg.
Die twee is as Paolo en Nino, onderskeidelik 32 en 34 jaar oud, geïdentifiseer. Volgens mediaverslae is hulle neefs en oorspronklik van La Louviere afkomstig, ʼn dorp naby die Franse grens.
Hulle het die oggend glo van ʼn disko af gekom.
De la Serna sê hy beskik oor inligting dat een van die twee verdagtes se lisensie in 2017 teruggetrek is, waarna hy weer vir een aansoek gedoen het.
Paolo en Nino. As dit Muhammed en Ahmed was, word dit glad nie genoem nie