Twee klimmers sterf op Everest

Everest in Napal. (Prakash Mathema/AFP)

Twee bergklimmers, een van die VSA en die ander een van Switserland, is die afgelope week op berg Everest in Nepal dood aangetref. Dit is die eerste sterfgevalle wat vanjaar op dié berg, die hoogste ter wêreld, aangemeld is. Die berg is onlangs weer oopgestel vir klimmers ná ʼn lang verbod weens Covid-19.

Die Switserse klimmer, Abdul Waraich (40), het die piek van die berg bereik. Chhang Dawa, ʼn sjerpa van Seven Summit Treks, het bevestig dat Waraich aan uitputting gely het toe hy die piek bereik het.

Dawa sê reddingwerkers is met suurstof en kos na die piek, maar kon Waraich nie red nie.

Die Amerikaner, Puwei Liu (55), het die Hillary Step-punt op die berg bereik, maar is teruggehelp na die voet van die berg omdat hy nie verder kon klim nie weens sneeublindheid en uitputting. Dawa sê hy het verlede Woensdag kamp 4 bereik, voordat hy inmekaargesak en gesterf het.

Ongeveer vyf bergklimmers sterf gemiddeld jaarliks op Everest, maar dié syfer het die afgelope jare toegeneem. Nadat die Covid-19-pandemie bergklimmers se planne om dié berg te klim gekniehalter het, het meer klimmers boonop die afgelope seisoen die berg aangedurf. Dit het gelei tot oorbevolking en só ook veelvuldige sterftes.

Altesaam 408 klim-permitte is vanjaar uitgereik, wat heelwat meer is as die 381 permitte in 2019.

Altesaam 11 mense het in 2019 op Everest gesterf, met vier sterftes wat aan oorbevolking toegeskryf kan word.

Nepal se departement van toerisme het reëls aangekondig om die getal bergklimmers te beperk om sodoende te verhoed dat te veel klimmers op een slag klim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Gert K

Dit is maar die risiko wat elke klimmer neem wanneer hul Everest aandurf. Bly egter jammer dat party se droom nooit verwesenlik word nie, en dat dit hul naasbestaandes is wat geraak word deur die tragedie.