Twee mans skuldig ná Kenia-bloedbad

Hussein Hassan Mustafah, Liban Abdullah Omar en Mohamed Ahmed Abdi vandeesweek in die hof in Kenia.(Foto: AP Photo/Brian Inganga)

ʼn Hof in Kenia het Woensdag twee mans skuldig bevind vir hul aandeel in die militante groep Al-Shabaab se destydse aanval op die Westgate-winkelsentrum in Nairobi.

Altesaam 67 mense is in September 2013 dood toe vier verdagtes op klante in dié winkelsentrum losgebrand is. Die terreuraanval het destyds tot ’n beleg van vier dae gelei.

Die vier aanvallers is destyds ook in die aanval dood.

Hussein Hassan Mustafah en Mohamed Ahmed Abdi is egter skuldig bevind op aanklagte dat hulle Al-Shabaab destyds gehelp het om die aanval uit te voer.

Hul medebeskuldigde, Liban Abdullah Omar, is op dié aanklagte vrygespreek.

Die landdros het gesê hoewel daar geen spesifieke bewyse is dat Mustafah en Abdi die aanvallers wesenlik ondersteun het nie, was daar voortdurende kommunikasie met die aanvallers.

“Die patroon van hul kommunikasie wys dat hulle nie net vriende was met die aanvallers nie,” het hooflanddros Francis Andayi gedurende uitspraak gesê.

Maroela Media het vroeër berig Al-Shabaab het kort ná die aanval erken dat hulle verantwoordelik was vir die aanval wat sedertdien as die Westgate-bloedbad bekend staan. Die militante het daarna met nóg aanvalle gedreig indien Kenia destyds nie dadelik hul troepe in Somalië onttrek nie.

Keniaanse magte het twee jaar vantevore die suidelike dele van Somalië ingeval om Somaliese magte te ondersteun en Al-Shabaab-basisse aan te val. Die Keniane het later by die Afrika-Unie-troepe aangesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.