Twee ontvoerde sendelinge vrygelaat

Argieffoto van Port-au-Prince in Haiti (2019) (Foto: Chandan Khanna/AFP)

Twee van die 17 sendelinge wat sedert verlede maand in Haiti as gyselaars gehou word, is vrygelaat.

Hoewel baie min inligting tot dusver bekendgemaak is, het Christian Aid Ministries, ʼn Amerikaanse organisasie sonder winsbejag waaraan dié sendelinge verbonde is, bevestig dat die twee wat vrygelaat is “veilig, versorg en in goeie luim” is.

“Ons kan nie hul name, redes vir hul vrylating, waar hulle vandaan kom of waar hulle hulself tans bevind, verskaf of bevestig nie,” het die groep Sondag in ʼn verklaring gesê. Mense wat wel inligting hieroor het, is versoek om dit as vertroulik te hanteer.

“Terwyl ons verheug is oor hul vrylating, is ons harte deurlopend by die 15 mense wat steeds as gyselaars gehou word.”

Maroela Media het vroeër berig dat die groep van 16 Amerikaners en een Kanadees middel Oktober buite die stad Port-au-Prince deur die berugte 400 Mawozo-bende ontvoer is.

Onder die ontvoerdes is ook vyf kinders, van wie die jongste maar agt maande oud is. Die sendelinge was op pad terug van ʼn weeshuis.

Die bende het vroeër aangedui dat hulle $17 miljoen (sowat R248 miljoen) vir die groep se vrylating – $1 miljoen (R15 miljoen) per gyselaar – eis.

Christian Aid Ministries het egter nie in hul jongste verklaring hierop kommentaar gelewer nie.

Die 400 Mawozo-bende het vroeër in ʼn video gedreig om die sendelinge te vermoor indien daar nie aan die bende se eise voldoen word nie.

Die polisie in Haiti het egter aan die begin van die maand bewyse ontvang dat al die sendelinge leef.

Die huidige stand van onderhandelings tussen die polisie en die bende is nie in dié stadium bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Shakespeare ·

Haiti is ‘n HOOL. Nie eers ‘n vark sal daar tuisvoel nie.

Charl ·

Kyk maar net na die argief foto, dis ‘n broeiplek vir al wat pes is !! Ek stem saam met Shakespeare, dis ‘n hool, geen vooruitgang nie en daarom gebeur hierdie dinge want daar’s geen investering so ook geen geld nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.