Twee oorleef 29 dae drywend in die see

Argieffoto (Foto: Walkerssk/Pixabay)

Twee Salomonseilanders het 29 dae lank in die oop see oorleef danksy kokosneute, lemoene en gebede. Hulle is 400 km van die kus van Papoea-Nieu-Guinee gered.

Die twee mans het tussen die eilande in die berugte onvoorspelbare Salomonssee gereis toe hul 7 meter lange boot in rowwe weer beland het, net ʼn paar uur ná hulle op 3 September op hul reis vertrek het.

Livae Nanjikana en Junior Qoloni kon nie meer land sien nie weens “swaar reën, donker wolke en sterk wind”, het Nanjikana Vrydag aan die Salomonseilande se uitsaaikorporasie van Pomio in Papoea-Nieu-Guinee gesê.

Die battery van hul GPS was pap en toe dit donker word, het hulle ook hul 60 perdekrag-boot se enjin afgeskakel om brandstof te bespaar.

Op die eerste aand is die mans deur sterk wind en reën getref en hul boot het selfs verder uit in die see gedryf. Vir die eerste nege dae het hulle op lemoene oorleef wat hulle vir hul reis ingepak het.

Toe die lemoene op was, het hulle op reënwater, kokosneute “en ons geloof in God oorleef, want ons het dag en nag bly bid”, het Nanjikana bygevoeg.

Hulle het reënwater in ʼn seilsak opgevang en slegs die boot se enjin aangeskakel wanneer hulle ʼn drywende kokosneut opgemerk het – in ʼn haas om dit op te tel.

“Ná ʼn paar dae, omdat ons gebid het, het God vir ons ʼn gedagte gegee om iets te maak waarmee ons kan seil. Ons het ʼn mas-tipe struktuur gebou met roeispane en seildoek gebruik om in die rigting van die wind te seil.”

Die wind het hulle in die rigting van die Nieu-Brittanje-eiland in Papoea-Nieu-Guinee gestuur waar hulle ʼn visserman in die verte gesien het. Hulle het die enjin vir ʼn laaste keer aangeskakel en na hom toe gery, maar hulle brandstof was ook uitgeput.

“Ons het toe begin skree en ons arms gewaai. Hy het ons raakgesien en na ons toe geroei,” het Nanjikana gesê. “Toe hy by ons aankom het ons hom gevra: ‘waar is ons nou?’ en hy het gesê, ‘Papoea-Nieu-Guinee’. En toe weet ons ons is veilig.”

Die twee bly in Pomio terwyl reëlings getref word sodat hulle na die Salomonseilande kan terugkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

anniekiewiet ·

Dankie Here, vir hierdie wonderwerk en hulle getuienis.

Zombie ·

Voorwaar ń wonderwerk dat hule 29 dae oorleef het! (Elders berig MM van 2 persone wat tydens die Visrivierkanomarathon oorlede is en dat minstens 100 persone in die DRK oorlede is, toe hulle “boot” omgeslaan het.)

Jack ·

Met selfoon het jy weervoorspelings. So n dom besluit om te reis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.