Twee renosters wat na Tsjad geskuif is dood aangetref

Swartrenoster (Argieffoto: RonPorter/Pixabay)

Twee van die ses kritiek bedreigde swartrenosters wat in Mei vanjaar van Suid-Afrika na Tsjad in Sentraal-Afrika verplaas is, is dood aangetref.

Die twee lande se onderskeie regerings, Afrika Parke en SANParke het Sondag in ʼn gesamentlike verklaring bevestig dat twee swartrenosterkarkasse in die Zakouma Nasionale Park in Tsjad gevind is. Die twee renosters was onder die ses renosters wat na Tsjad geskuif is in ʼn poging om dié spesie weer in die Zakouma-park te vestig nadat dit al byna 50 jaar lank daar uitgewis is.

Die renosters is vir twee maande ná hul aankoms op 4 Mei in Tsjad in bomas aangehou voordat hulle vir nog twee maande in ʼn tydelike skuiling vrygelaat is om hulle kans te gee om by die nuwe omgewing aan te pas.

Laat-Augustus is die skuilingheining verwyder en die renosters is toegelaat om in die res van die park rond te beweeg hoewel hulle deurentyd gemonitor is.

Die karkasse van die twee renosters, ʼn bul en ʼn koei, is op 15 Oktober gevind.

“Ons kan bevestig hierdie twee renosters is nie gestroop nie. Die presiese oorsaak van hul dood is egter nog nie bekend nie. ʼn Spesialis veearts is tans by die Zakouma Nasionale Park om ʼn nadoodse ondersoek te doen om die oorsaak van hul dood vas te stel en die situasie te assesseer om te besluit op verdere stappe. Meer besonderhede sal bekendgemaak word sodra die oorsaak vasgestel is,” lui die verklaring.

Owerhede het reeds bevestig dat die ander vier renosters steeds lewe en hulle word tans fyn dopgehou. Gesprekke tussen die twee lande is aan die gang om te ondersoek watter voorsorgmaatreëls getref kan word om ʼn soortgelyke voorval met die ander vier diere te voorkom.

Die verskuiwing van die renosters het plaasgevind in ooreenstemming met ʼn memorandum van verstandhouding tussen die twee lande oor die hervestiging van die swartrenoster in Tsjad. Dit is  gedoen om die noodsaaklike biodiversiteit in die land te herstel en te help met die langtermyn bewaring van die spesie op die vasteland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Netso ·

As Rooibos besig is om uit te sterf agv van misdaad stuur dit? Wat het julle gedink? Hanteer die probleem hier nie daar nie!

E.K. die eerste ·

So jammer tog! Ons het die hele tv program hieroor gekyk en styf duimvasgehou dat dit sal uitwerk!

Landi ·

Ons het dit mos van die begin af verwag! Hoop julle voel hond sleg! Die arme diere was doomed, of dit nou n virus was, stroopery of wat ook al… Ons het dit geweet en gesien kom. Ons het gesmeek MOENIE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.