Twee Russe is verdagtes in Novichok-vergiftigingsaak

Sergei Skripal en sy dogter Joeilia (Foto via Sky News)

Engeland het twee verdagtes, albei van Rusland, geïdentifiseer in die Novichok-vergiftigingsake.

Owerhede het nog nie amptelik ʼn aankondiging gemaak nie, maar CNN en die Britse nuusagentskap (via die BBC) het hieroor berig.

Ondersoekbeamptes het kringtelevisiebeeldmateriaal van lughawens en Salisbury bestudeer in die tyd wat die voormalige Russiese spioen, Sergei Skripal en sy dogter Joeilia in Maart met die senumiddel Novichok vergiftig is.

“Ondersoek beamptes is oortuig hulle het die oortreders van die Novichok-aanval geïdentifiseer,” het ʼn bron aan die Britse persvereniging gesê. “Die inligting is met rekords vergelyk van persone wat die land binnegekom het.” Die ondersoekbeamptes is oortuig die verdagtes is van Rusland afkomstig, aldus die bron.

Die nuusagentskap berig oor “verskeie verdagtes”, terwyl CNN slegs na twee persone verwys.

Ondersoekbeamptes het na bewering gesigherkenningstegnologie gebruik om die verdagtes uit te ken. Hulle het vermoedelik onder skuilname die land betree.

Rusland se ambassadeur in Brittanje het egter intussen gesê hy is nog nie in kennis gestel van dié verwikkeling nie.

Dawn Sturgess (Foto: Facebook)

Die Skripals het die aanval oorleef, maar ʼn tweede voorval, wat vermoedelik met die vergiftiging van die voormalige spioen en sy dogter verband hou, het ʼn lewe geëis.

Maroela Media het vroeër berig die Britse paartjie, Dawn Sturgess (44) en Charlie Rowley (45) is ook met Novichok vergiftig. Sturgess is op 8 Julie in die hospitaal oorlede nadat sy aan die senumiddel blootgestel is. Rowley (45) het intussen sy bewussyn herwin. Hy bly in ʼn ernstige, maar stabiele toestand in die hospitaal.

Ondersoekbeamptes dink egter nie Sturgess en Rowley is doelbewus geteiken nie. Hulle het vermoedelik ʼn parfuumbottel, wat in die oorspronklike aanval gebruik is, iewers opgetel en hulle is só vergiftig. Die bottel is in Rowley se huis gevind.

Lees alle vorige berigte oor die Novichok-vergiftiging op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.