Twee sterf op Japanse skip met koronavirus

Passasiers word sedert 3 Februarie aan boord in isolasie gehou (Foto: Eugene Hoshiko, AP)

Twee bejaarde passasiers wat aan boord was van die Diamond Princess-skip is dood nadat hulle die koronavirus op die skip opgedoen het.

Dit volg ná dié skip sedert 3 Februarie in die Jokohama-hawe in Japan geanker is nadat een passasier positief vir die koronavirus getoets het. Die passasiers word sedertdien aan boord in isolasie gehou.

Sowat 440 passasiers wat nie positief vir die virus getoets het nie, is Woensdag ná 14 dae kwarantyn toegelaat om die skip te verlaat. Teen Vrydag sal nog 1 000 passasiers na verwagting in groot groepe terugkeer land toe. Toetsresultate van sommige passasiers aan boord is steeds uitstaande. Passasiers wat ’n kamer met virusbesmette passasiers gedeel het, word tans nog in isolasie op die skip gehou.

Die BBC berig minstens 621 van die 3 700 passasiers aan boord is reeds positief vir die virus getoets. Japan se departement van gesondheid het bevestig dat dié pasiënte onmiddellik na mediese fasiliteite gestuur is om die nodige behandeling te ontvang.

Meer as 150 van dié passasiers was Australiërs. Hulle het reeds in Darwin in Australië aangekom, waar hulle twee weke onder kwarantyn geplaas gaan word. ’n Groot groep passasiers van Hongkong is reeds terug in die stad, waar hulle ook geïsoleer gaan word. Die 74 passasiers van Brittanje gaan Vrydag terugkeer huis toe.

Passasiers aan boord van die Diamond Princess-skip (Foto: Eugene Hoshiko, AP)

Kentaro Iwata, Japanse gesondheidskundige en professor in die afdeling vir aansteeklike siektes aan die Japanse Kobe-universiteit, het die skip besoek en die situasie aan boord as “chaoties” beskryf. Iwata sê hy betwyfel dit dat die skip se bestuur in beheer van die virus is. “Die skip was nie toegerus om voldoende infeksiebeheer toe te pas nie,” sê Iwata.

Japanse owerhede het ook die besluit om die passasiers geïsoleerd aan boord te hou, bevraagteken. Mediese kundiges wat die kwarantynproses aan boord waargeneem het, beskryf die situasie as die “perfekte virusinkubator”.

Sowat 349 nuwe gevalle van dié gevreesde virus is teen Woensdag in die Hubei-provinsie in China aangemeld. Volgens China se provinsiale gesondheidskommissie is daar reeds 118 mense dood. Altesaam 62 031 gevalle is in dié provinsie bevestig. Meer as 700 bevestigde gevalle is in Japan aangemeld.

Volgens die WGO se jongste beskikbare syfers is daar wêreldwyd reeds 75 674 gevalle van dié siekte waaronder 2 126 mense reeds dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anilda ·

Die siekte is darem astrenomies, getalle styg elke dag…HIV was die gevreesde siekte wat almal gedink het is ou siener se waarskuwing van siektes….maar ek dink hier is hy nou….gee kans ons wereld bevolking gaan drasties verlaag as dit afrika slaan….ons taat is nie in staat om enige siektes soos die teen te staan nie kyk maar net ons ou staats hospitale….as hulle nie een griep kan beveg nie wat van die dodelike virus….

Johann ·

Onthou ook dat die volle omvang stil gehou word. Die rede is om massa paniek te vermy, want andersins gaan almal die winkels bestorm. As hierdie ding SA gaan tref gaan dit erg wees en hiermee ‘n paar wenke sou dit SA tref: 1. Sluit jou huis en bly in jou huis. 2. Sorg dat jy voldoende voedsel het vir ‘n paar weke. 3. Sorg dat jy gas het vir energie om kos en water te kook. 4. Drink 1000 mg Vit C en sorg dat jy griep medisyne en natuurlike antibiotika in die huis het. 5. Skaf ‘n koorspen aan. Wat doen ek indien ek griep sintome het? 1. Moet verkieslik nie dokters of hospitale toengaan nie. 2. Drink ekstra Vit C en griep medikadie plus natuurlike antibiotika. 3. Hou jou ligaam se temperaruur by 39 grade celsius, want by hierdie temperatuur kan die virus homself nie re-produseer nie. Probeer om jou werk so te reel dat jy tuis kan werk indien moontlik. Ek hoop dit help, ek is egter nie ‘n Dokter nie, maar ek is ‘n Siviele Ingenieur wat weet hoe lyk sanitasie in SA !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.