Twee sterf tydens werwingsoefening by lughawe

Argieffoto (Pixabay)

Twee werksoekers is vroeër die week by die Robert Gabriel Mugabe Internasionale Lughawe in Harare, Zimbabwe, dood tydens ʼn werwingsoefening.

Die Afrika-land se burgerlike lugvaartowerheid (Caaz) het die sterftes tydens die werwingsoefening Dinsdag bevestig, maar nie bekendgemaak presies hoe dit gebeur het nie.

Volgens berigte het daar ʼn stormloop tydens ʼn padwedloop ontstaan en het twee mense in dié stormloop gesterf en is nog sewe beseer.

ZW News berig 500 mense het opgedaag om aan die werwingsoefening deel te neem nadat poste by die lugvaartveiligheidsafdeling geadverteer is. Volgens die nuusagentskap is daar van kandidate verwag om ʼn padwedloop te voltooi en militêre tipe oefeninge te doen as deel van die keuringsproses.

Daar word ook berig dat daar na bewering nie genoeg ambulanse en paramedici aanwesig was vir ʼn skare van dié omvang nie.

“Die burgerlike lugvaartowerheid van Zimbabwe was besig om leerlinglugvaartveiligheidsbeamptes te werf. Die werwing is deel van die owerheid se poging om sy lugvaartveiligheidsafdeling van die nodige mannekrag te voorsien in ooreenstemming met internasionale burgerlike lugvaart- vereistes,” het Anna-Julia Hungwe, woordvoerder van Caaz, gesê.

“Dit is met diepe hartseer en swaar harte dat ons aankondig dat twee manskandidate beserings opgedoen as gevolg van die padwedloop gedurende hierdie werwingsoefening. Die twee is na die Parirenyatwa-hospitaal geneem waar hulle dood is.”

Hungwe het nie enige melding gemaak van die stormloop of dat daar ander mense beseer en gehospitaliseer is nie.

Die name van die twee oorledenes is ook nog nie bekendgemaak nie.

Hungwe sê die oorledenes se families is in kennis gestel en die owerheid bied ondersteuning aan die naasbestaandes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Melt Olckers ·

Dit behoort praktyk te wees om eerstens die persone medies te laat ondersoek en fiks verklaar te word voordat fiksheids toetse gedoen word.
Hulle kan byvoorbeeld eers deur ‘n Lugvaart Geneeskundige ondersoek word.
In die ou weermag was ons eers medies ondersoek en geklasifiseer voordat ons toegelaat was om enige oefeninge te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.